Klontwol
Dr. FAFFA MALAN en prof. GARETH BATH
Vraag:
Met die baie reën wat geval het, het my lammers se lyf hard geword. Wat veroorsaak dit en wat kan ek daaraan doen?
Antwoord:
Klontwol of dermatofilose word veroorsaak deur 'n kiem (bakterium), Dermatophilus congolensis. Die kiem het swamagtige eienskappe en word soms verkeerdelik as 'n swam geklassifiseer. Die kiem kom in twee vorms voor. Gedurende die aktiewe stadium van die siekte vorm die kieme filamente (drade) wat sakkies met kokkusse (kieme) daarin produseer. As hierdie kieme vrygestel en aan vogtigheid blootgestel word, ontwikkel hulle lang sweephare. Infeksie geskied wanneer die beweeglike stadia (soöspore) geproduseer word, en die vel binnedring. Die kiem kan skape, bokke, beeste en perde aantas.
Oordraging
Die teenwoordigheid van skape wat met die kiem (D. Congolensis) bemet is, dien as bron van besmetting vir die ander vatbare diere in die kudde. Indien die klimaat vogtig en nat is en daar noue kontak tussen besmette en diere wat nie voorheen met die kiem besmet is nie ontstaan, word die siekte versprei. As diere nat word bv. tydens dip kan dit ook bydra dat soöspore vrygestel word en skape besmet word. Die soöspoorvrystelling geskied vanaf 30 minute nadat besmette skape nat geword het. Gewoonlik word diere na die dipproses vir 'n geruime tyd gekraal wat daartoe aanleiding gee dat diere besmet raak weens hulle noue kontak met mekaar.
Die kiem kan tot 4 maande weg van die dier oorleef. Dippe wat aangemaak is en waarby nie sinksulfaat bygevoeg is nie, is dikwels 'n bron van besmetting.
Skape word deur hulle natuurlike wol en haarbedekking, asook deur die was-en-horinglaag van die vel beskerm teen besmetting met D. Congolensis. Enigiets wat hierdie beskermingsmeganismes skaad, kan tot klontwol bydra. Die skeerproses dra daartoe by dat beskermende wol en haarbedekking verwyder word. Die vel kan ook beskadig word deur die skeerproses, dorings, grassade en eksterne parasiete. Baie reën en dip beskadig ook die beskermende waslaag van die vel en kan dit selfs oplos. Die dipstof kan ook die oppervlakkige vellaag beskadig.
Lammers word sonder wolvet gebore en dit duur 4 tot 5 weke voordat die beskermende waslaag op die vel gevorm word. As gevolg hiervan is lammers besonder vatbaar vir klontwol.
Kliniese tekens
Die letsels kom voor waar die kieme die vel kan binnedring:
bv. waar skape aan baie nat toestande blootgestel word, kom die letsels veral op die rug voor omdat die wol nat bly. Skape wat doringagtige struike bewei kry wondjies aan die bek, bene en hoefkrone waardeur die kieme dan binnedring.
Die volgende vorms van klontwol kom voor:
Algemene vorm:
Die letsels wat deur die kieme op die veloppervlakte veroorsaak word, skei taai liggaamsvog af wat die wol laat saamkoek om korse [die sogenaamde klonte] te vorm. Hulle is dikwels keëlvormig [cone-shaped]. Die klonte is baie hard en as so 'n klont afgetrek word, is die vel daaronder gekraak en ongelyk. Soms is daar ook 'n rou, bloeiende seer aanwesig. Daar kan net 'n paar letsels aanwesig wees of die skaap se hele lyf kan van klonte oortrek wees. Die wol se waarde neem af as klontwol in 'n skeersel teenwoordig is.
Hardelamsindroom:
Waar wolskaaplammers in die reënseisoen gebore word, bly hulle klam. Erge dou kan ook 'n bydraende faktor wees. Die hele rug, nek en selfs die ore vorm harde korse. Letsels kan ook op die kop en lippe vorm. Lammers is siek, vreet en suip sleg en kan selfs vrek.
Dorpers:
Waar klontwol by Dorpers voorkom, kan hulle hul hele bedekking van hare en wol verloor. Hulle kan dan weens blootstelling vrek.
Angoras:
By Angoras gaan klontwol met haarverlies gepaard.
Aarbeipoot ("strawberry foot")
Die naam is beskrywend vir die infeksie van die hoefkrone met D. congolensis en waarskynlik is 'n infeksie van die vuilbekvirus ook teenwoordig.
Oor- en gesigklontwol:
Insekte wat bloedsuig, speel 'n rol in die voorkoms van klontwol op die gesig en ore. Dit word dikwels verkeerdelik aan "sonbrand" toegeskryf. Hierdie toestand moet van vuilbek, wat 'n virusinfeksie is, onderskei word.
Diagnose:
U plaaslike veearts kan die veroorsakende kieme wat in die korse voorkom, kleur en onder 'n mikroskoop identifiseer. Monsters vir kweking kan ook geneem word en na 'n labarotorium gestuur word vir identifikasie.
Die toestand moet onderskei word van onder andere vuilbek, vagvrot en fotosensitisasie.
Behandeling:
Skape kan met 'n kombinasie van penisillien en streptomisien behandel word - raadpleeg u veearts.
'n Enkele inspuiting met 'n langwerkende tetrasikliene bv. Reverin LA, G3442, is doeltreffend.
Ligte infeksies kan behandel word deur skape te was of te dip met 'n 1:200 oplossing van 'n kwaternêre ammonium preparaat. In erge besmettings moet behandeling na 3 weke herhaal word.
As die korse aanmekaar voorkom, kan hulle eers met 'n skaapskêr weggesny word sodat die middel by die kieme kan week.
Voorkoming:
Deur 5% sinksulfaat by die dipvloeistof te voeg, word voorkom dat klontwol versprei.
Deur skape kort na skeer te dip in, of te spuit met 1% aluin, kan voorkom word dat skeerwonde met klontwol besmet raak.
Skeer en dip skape met klontwol laaste sodat hulle nie die ander skape aansteek nie.
Moenie nat skape kraal nie en voorkom samedromming want dit is waar hulle mekaar met die klontwolkiem aansteek [veral pasgeskeerde skape].
Deur sinksulfaatpoeier tydens reëntye in die wol in die middel van die ruglyn te plaas , kan die besmetting met die klontwolkiem verminder word.
Sinksulfaat sal nie die kroniese letsels genees nie, maar is voorkomend deurdat hulle die soöspore vernietig wat nuwe besmetting veroorsaak.
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Intervet 'n deel van Schering-Plough en prof. Gareth Bath, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.
Bronne
Bruère A.N. en West, D.M. 1993. The Sheep: Health and Disease and Production. Veterinary continuing education, Massey University, Palmerston North, New Zealand. ISSN 0112-9643
De Wet, J. en Bath, G. 1994. Kleinveesiektes.Tafelberg-Uitgewers. ISBN 0 624 03203 5
9 Mei 2008