Landbou
Vratte op honde
Dr. SUNELLE STRYDOM en prof. PAUL BLAND-VAN DEN BERG

Vraag:
My Franse poedel is 11 jaar oud - het verskeie vratte oor haar hele lyfie, maar mag ongelukkig nie narkose kry nie. Ek het die volgende boererate gekry - 1. Wend 2 maal daagliks gewone terpentyn aan en laat droog word. 2. Gebruik 'n botteltjie Turlington. 3. 'n Ander raat wat baie beslis help vir vratjies is om Lennons se bruindulsies op die vrat te smeer. Kan ek dit probeer? Of het u enige ander raad? - Antoinett Moerdyk (Antoinett.Moerdyk@nwu.ac.za)

Antwoord:
Vratte kom in beide plaasdiere asook troeteldiere voor. Vratte kom veral baie algemeen in honde voor, maar minder algemeen in katte. Klein vratte kom algemeen op die ooglede, lippe, ore en pote voor, maar kan ook oor die hele liggaam aangetref word. Vratte kan ook binne in die mondholte, op die tong en in die slukderm voorkom en die kouproses beïnvloed.

In ouer honde kan dit ewe skielik voorkom omdat hulle immuunsisteem verlaag is met ouderdom en hul dus nie meer immuniteit het teen die virus wat vratte veroorsaak nie.

Vratte groei gewoonlik stadig en kan vir jare teenwoordig wees sonder om enige ongemak of pyn in die dier te veroorsaak. Dit is egter uiters belangrik dat vratte onderskei word van kankergewasse wat soortgelyk kan vertoon. Slegs 'n veearts kan die onderskeid maak.

Vratte verdwyn gewoonlik self, maar dit kan 'n baie lang tydperk neem. Wanneer daar egter ulkusse op die vratte vorm of daar infeksie intree in die vratte, moet hulle chirurgies verwyder word. Daar is tans nie regtig behandeling wat die verdwyning daarvan sal bespoedig nie.

Ek sal geen van die bogenoemde boererate aanbeveel nie, aangesien nie een van hulle getoets is nie. Ons het dus geen idee of dit skadelik kan wees vir honde nie. Navorsing op die ontwikkeling en registrasie van middels, strek oor jare en kos miljoene rande. Verskeie toetse moet gedoen word om te verseker dat die middels veilig is vir beide mens en dier.

U veearts kan moontlik help met 'n autogene entstof of middels om die immuunsisteem op te bou, maar daar is geen waarborg dat hierdie behandeling effektief gaan wees nie. Bevriesing kan ook oorweeg word, maar dit is nie iets wat algemeen in veeartseny gebruik word nie. As die letsels op u hond dus deur 'n veearts gediagnoseer is as vratte en die vratte geen ongemak of pyn veroorsaak nie, sal ek dit onbehandeld laat.

  • Geskryf deur: Dr. Sunelle Strydom, Intervet/Schering-Plough Animal Health en prof. Paul Bland-van den Berg, direkteur: Kliniese Dienste, Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal.

    2 Junie 2008