Landbou
Olieboom-sade: Baie gevaarlik
Dr. FAFFA MALAN en Dr. NEIL FOURIE

Vraag:
Hierby aangeheg is 'n foto van die droë plant en vrug wat hier by ons (in Namibië) bekend staan as Angola-aartappel. Sy vleis bevat 'n dwelmstof. Wat is sy naam daar by julle? - Georg (georgf@iway.na)

Antwoord:
Die foto is van die plant Datura ferox, olieboom, stinkblaar, "thorn apple" of "moon flower". Let op na die lang stekels wat D. Ferox onderskei van D. Stramonium, wat korter stekels het. Die plant bevat alkaloïde (atropien, hyoscine en hyoscyamine). Die sade is veral giftig vir mense en enkelmaag diere soos perde en kan selfs die dood veroorsaak. Baie mense is reeds deur die saad wat in meel, ertjies en boontjies teenwoordig was, vergiftig. Etlike kinders het reeds gesterf as hulle van die boontjies (sade) ingekry het. Deur spinasie van die blare te maak, is mense ook vergiftig. Dit is waarom mielies afgekeur word as dit te veel van die sade bevat.

Daar is wel vergiftiging in beeste gevind waar slegs droë olieboomplante gevreet is.

Kliniese tekens by mense:

  • Duiseligheid, "dronkheid", gaap, droogheid van die mond, tong en keel, pogings om te sluk veroorsaak krampe in die keel (kan met hondsdolheid verwar word), bitter smaak en brandende gevoel in die mond, belemmering van die sig, pasiënt waggel asof hy dronk is, rusteloosheid wat tot delirium kan styg, oogappel wyd oop, en moeilike onsamehangende spraak. Sommige slagoffers braak en ly aan maagwerking. Verder is daar eienaardige geestesstoornisse (vandaar die naam malboontjie), bv. die pasiënte probeer teen mure of bome opklim, trek aan denkbeeldige toue, vang of soek na denkbeeldige voorwerpe, probeer geluide van diere na-aap, hardloop op hande en voete rond, probeer denkbeeldige garing deur denkbeeldige naalde te steek, hulle lag baie, daar is 'n neiging om al die klere uit te trek, en 'n jeukende gevoel.

    In sommige gevalle bewe verskillende spiergroepe en stuiptrekkings kan uiteindelik verskyn en die dood kan deur asemhalingsverlamming intree. Oor die algemeen sien ons egter dat die stadium van opgewondenheid oorgaan in 'n toestand van neerslagtigheid en slaap en uiteindelik bewusteloosheid. Die pols en asemhaling is stadig, swak en onreëlmatig en die dood tree in deur asemhalingsverlamming. As atropien langdurig in klein dosisse ingeneem word, kan galbulte, blasies, bloedings en 'n skarlakenkoorsagtige uitslag op die vel voorkom.

    Pasiënte wat nie dodelik vergiftig is nie, kan tot 'n paar weke of maande nie heeltemal herstel nie en aan algemene swakheid, verwyding van die oogappels (belemmerde sig), dors, belemmering van die geheue en versteuring van die ewewig (moeilik loop) ly.

    Kliniese tekens by diere:
    Diere is in vergelyking met die mens, minder vatbaar vir vergiftiging.
    Konyne het ensieme wat in die lewer vervaardig word wat die gifstowwe van stinkblaar vernietig.
    Siektetekens is baie dieselfde soos in mense gesien en hierbo genoem word, behalwe vir die geestesstoornisse. Volstruiskuikens was alreeds baie die slagoffers van stinkblaarsaadvergiftiging. Hulle waggel en vertoon veral krampe van die nek.
    Behandeling:
    'n Geneesheer moet so gou moontlik behandeling toepas waar menslike vergiftiging voorkom.
    Asetielkolien inhibeermiddels moet so gou doenlik aan diere gegee word. Bespreek dit met jou veearts.

    Voorbehoeding:

  • Stinkblaar moet uitgeroei word op lande en veral op lande waarop koring, hawer, boontjies en ertjies verbou word.
  • Graan wat meer as 0,5% stinkblaar bevat, is gevaarlik vir vee.
  • Kinders moet geleer (verbied) word om nie stinkblaarsaad (malboontjies) te eet nie.

  • Geskryf deur prof. Neil Fourie en dr. Faffa Malan, Intervet/Schering Plough.

    Bronne:
    Kellerman, T S, Coetzer, J A W, Naude, T W en Botha, C.J. 2005. Plant poisonings and mycotoxicosis of livestock in Southern Africa. Oxford University Press, Southern Africa. ISBN 978 0 19 57613 4
    Steyn, D G 1949 Vergiftiging van mens en dier. J L van Schaik Bpk, Pretoria.

    3 Junie 2008



  • Stinkblaar 04/06/2008
    Is daar enige ander manier, behalwe meganiese bewerking of om te spuit om van die onkruid ontslae te raak, want hoe meer 'n mens die grond bewerk, hoe meer groei die vuilegoed, veral as dit water kry. - Gerhard Du Preez

    Olieboom-sade 04/06/2008
    Interessante artikel! - Jan

    Naam
    E-pos
    Onderwerp
    Kommentaar