Landbou
Wil met beeste boer
Dr. PHILIP THEUNISSEN

Vraag:
Ek wil binne die volgende jaar met beeste boer. Ek het kapitaal van sowat R500 000 om klein te begin. Sal dit met die hulp van 'n bank moontlik wees? - Johan Van Straten (vanmj@telkom.net)

Antwoord:
Probeer eers grond huur om op te begin boer eerder as om sommer met die intrapslag grond te wil koop. Mens betaal baie skoolgeld as jy begin boer en grond wat by eiendomsagente of in media-advertensies geadverteer word is meestal die swakker gronde. Goeie gronde word opgeraap nog voor die eienaar self behoorlik weet hy wil verkoop. As jy dus eers huur kry jy 'n gevoel vir wat werk en waar die goeie gronde is. Met R500,000 kan jy al 'n skaflike klompie beeste aankoop. Ek is nie seker of jy dit reeds het en 'n bykomende deel by die bank wil gaan leen nie en of jy die volle bedrag by die bank wil gaan leen. Banke is taai om geld vir vee uit te leen mits jy jou grond as sekuriteit kan aanbied en dit is iets wat beginnerboere gewoonlik nie het nie. Met vee kan 'n mens egter maklik deeltyds op gehuurde grond begin boer en die kudde stelselmatig opbou totdat jy 'n ekonomies lewensvatbare kudde het.

  • Dr. Philip Theunissen, www.computus.info

    10 Mei 2006