Vraag:
Ek het 'n huurooreenkoms met 'n buurman dat hy sy spilpunt op my grond kon oprig en dit vir 8 jaar gebruik. Die tydperk het nou verloop. Die kontrak bepaal dat alle roerende eiendom verwyder mag word soos die spilpunt en pompe, maar dat onroerende eiendom soos die wildheining nie verwyder mag word nie.
Ek sou graag wou weet of die moederlyn wat 1 meter diep begrawe is deel van die onroerende eiendom is en dus nie verwyder mag word nie, en of dit (volgens hom) deel van die spilpunt is. Die kraglyn is vir 600 meter 'n "step-up, step-down" stelsel waarvan die kabel ook 1 meter diep begrawe is. Is die transformers deel van die kragkabel of kan dit verwyder word as roerende eiendom?
Volgens my mening is albei onroerende eiendom.
Kan u my dalk help met uitsluitsel in die verband of verwys na 'n prokureur wat kundig is op die gebied? - Willie Grobler (w.grobler1@absamail.co.za)
Antwoord:
Die moederlyn en die kraglyn is vaste verbeterings of 'n sogenaamde vashegting en kan nie deur die huurder verwyder word nie. Daar is 'n moontlikheid dat die persoon wat dit opgerig het vergoed moet word want hy het die eiendom verbeter. As daar egter nie vooraf ooreengekom is oor die vergoeding nie is dit nie nodig om hom daarvoor te kompenseer nie. Uit julle ooreenkoms wil dit lyk of dit deel van die huurooreenkoms was dat hy die onroerende items daar sou los sonder enige vergoeding.
8 April 2008