Vraag:
Ek is 'n jong bonafide boer wat wil weet hoe en of ek moet registreer vir btw. Ek wil graag my vrou registreer want ons sal vir die volgende drie jaar nie enige wins uit die boerdery maak nie. Ons gaan bou aan ons kudde. Ons het al reeds 'n aantal beeste aangekoop en wel btw betaal, ons gaan nog 'n verdere aantal koop oor die volgende drie jaar, so hoe nou gemaak want sal ek van die btw kan terugeis of nie? - Quintin Antunes (quintin@minxcon.co.za)
Antwoord:
Jy is eers verplig om vir BTW te registreer as jou omset meer as R1 miljoen is. Onder dit kan jy vrywillig registreer. Ek sal jou sterk aanraai om wel vir BTW te registreer want dan kan jy BTW terugeis op die vee wat jy koop, voertuie en werktuie, reparasies en self 'n plaas. As jy vee verkoop betaal die eindverbruiker die BTW en nie jy nie. So as jy nie registreer nie is jy die eindverbruiker op alles wat jy koop en moet jy self die BTW absorbeer. Jy hoef nie noodwendig 'n wins te maak om vir BTW te registreer nie. Jy gaan tog wel uitskot vee verkoop. SARS sal wel net 'n wenkbrou begin lig as jy na 10 jaar nog nooit 'n wins gemaak het nie.
17 April 2008