'n Kykie na beleggings
SCHALK BURGER
Sedert April 2003 het die JSE Alle Aandele-indeks altesaam 84 % gestyg en die 5-jaar gemiddelde opbrengs is vyf keer hoër.
Is dit te laat om in die SA aandelemark te belê?
Nee. Die fundamentele ekonomiese faktore is gesond, bestendiger ekonomiese groei word verwag, die plaaslike ekonomie reageer gunstig op nuwe beleid en voorkeure, en die wêreldekonomie beleef ook 'n volgehoue herstel. Die Amerikaanse dollar het verswak, kommoditeitspryse het verstewig, wêreldinflasie is laag en die styging in rentekoerse is geleidelik. Al hierdie faktore het 'n baie "SA-vriendelike" ekonomiese omgewing geskep wat, saam met 'n besonder sterk plaaslike vraag, daarop dui dat aandeelpryse verder kan styg - hoewel nie in die omgewing van 25 % en meer soos in 2004 gesien is nie.
Watter verbeterings is die afgelope 10 jaar in die SA ekonomie aangebring?
Ekonomiese herstrukturering en fiskale konsolidasie tussen 1994 en 2001 het gelei tot 'n fundamentele verandering in die gedrag van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Valutabeheermaatreëls is verslap, ekonomiese aktiwiteit is oor 'n breë front gedereguleer, en Suid-Afrika se onafhanklike sentrale bank (die Reserwebank) het inflasie onder beheer gebring. Die begrotingstekort is van meer as 7 % afgebring tot minder as 2 % van die bruto binnelandse produk (BBP). Belastingadministrasie is verskerp en maatskaplike investering het 'n prioriteit geword. Verder is persoonlike belasting verlaag. Nadat die ekonomie jare lank wipplank gery het, word bestendiger ekonomiese groei nou verwag. Al hierdie faktore het ekonomiese aktiwiteit en groei gestimuleer.
Wat kan beleggers leer uit die laaste vyf jaar in SA aandelemarkte?
Gevestigde beleggingsfilosofieë wat streng toegepas word en tyd gegun word, is die beste manier om welslae te behaal. As beleggers koelkop bly en koersvaste beleggingstrategieë volg - en 'n toepaslike persentasie aandele by hul portefeuljes insluit - het hulle 'n beter kans om die finansiële doelwitte te bereik wat hulle vir hulself gestel het. Namate Suid-Afrika in 'n lae inflasie-omgewing inbeweeg, sal verwagtinge van hoë nominale opbrengste aangepas moet word. Enkelsyfer-opbrengste op aandelebeleggings sal waarskynlik die norm wees.
Wat is die kanse dat die SA mark sy wipplankgeskiedenis in die volgende tien jaar gaan herhaal?
Daar is geen rede tot vrees vir die newe-effekte van 'n wipplank-ekonomie, soos ons in die onlangse verlede ervaar het nie. Daar is min tekens van finansiële oordaad (vergeleke met ontwikkelde lande), en redelik hoë reële rentekoerse hou buitensporige besteding in toom. Vooruitskouend hou die stand van die wêreldekonomie nietemin 'n paar potensiële risiko's in wat 'n groter impak kan hê as plaaslike hindernisse.