Landbou
Min boere kan kommervry aftree


Meer as 75 persent van die land se kommersiële boere kan weens onvoldoende finansiële beplanning nie sorgvry aftree nie, luidens 'n verklaring deur Ou Mutual.

Volgens die verklaring sal 'n beduidende persentasie van die land se meer as 45 000 boere, wat wel finansiële voorsiening gemaak het, net genoeg aftreegeld weggesit het om vir minder as 10 jaar ná aftrede gemaklik te kan leef.

"Indien hulle daarna nie bykomende inkomste genereer het nie, sal hulle hul aftree-inkomste drasties moet inkort," reken mnr. Schalk Burger, markontwikkelingsbestuurder (Agri) by Ou Mutual.

Om 'n maandelikse aftree-inkomste van R15 000 vir slegs tien jaar te genereer, benodig jy kapitaal van R1,5 miljoen om 'n annuïteit te koop (bereken teen 'n reële persentasie van 3 % - groei minus inflasie).

"Ou Mutual is bekommerd oor hierdie neiging, veral omdat baie boere erg onverskillig staan oor finansiële toekomsvoorsorg. En die toekoms is tog die plek waar ons die res van ons lewe gaan spandeer. Hulle besef nie dat sonder 'n finansiële spaarbuffer, droogtes en vloede hulle op hul knieë kan bring nie," sê Burger.

In 'n poging om boere by te staan om hul finansiële beplanningsaksies op te knap, gaan Ou Mutual in Julie en September finansiële potjiekos-werkwinkels aanbied in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Noordwes, asook in die Noord-Kaap.

Die sprekers by die werkwinkels sluit in:

  • Schalk Burger van Ou Mutual, bekende kommentator in die landboumedia, gaan praat oor finansiële potjiekosbeplanning.
  • Dr. Johan Willemse, van die Vrystaatse Universiteit en Ekonoom van die Jaar (2003/4), gaan gesels oor die bestuur van landbousiklusse en verandering.
  • Dr. Stephan van der Merwe van die Potchefstoomse Sakeskool van die Noordwes Universiteit, gaan uitwei oor harmonie in 'n familie-boerderybesigheid.
  • Dr. Elmarie Venter van die Nelson Mandela Metropool Universiteit (voorheen bekend as die Universiteit van Port Elizabeth), gaan gesels oor die vrou se rol in 'n boerderybesigheid.

    Boere en hul gades wat die werkwinkels wil bywoon, kan hul naaste Ou Mutual-kantoor kontak of (021) 555-2240 bel vir nader inligting.

    Die werkswinkels is op:
    Port Shepstone - 18 Julie
    Bergville - 19 Julie
    Vryheid - 19 Julie
    Standerton - 20 Julie
    Platrand - 21 Julie
    Piet Retief - 21 Julie
    Groblersdal - 22 Julie
    Citrusdal - 5 September
    Williston - 5 September
    Upington - 6 September
    Kuruman - 7 September
    Vryburg - 7 September
    Lichtenburg - 8 September
    Potchefstroom - 9 September.

    8 Julie 2005