Vraag:
As pensioenaris het ek 22 ha met goeie water bekom om 'n karige pensioen mee aan te vul. Ek wil met skape op aangeplante weiding boer. Dit ten spyte van wat almal praat van diefstal - die probleem is eie aan sy soort. Wat moet ek weet om suksesvol te wees? Hoeveel skape kan ek per hektaar aan hou? Waaraan dink ek nie? Dit lyk rooskleurig. Is daar iets wat jy my kan meedeel? Siektes en peste sak my veearts uit sorteer. - Kallie Snyman (Mafikeng) (carlrsnyman@hotmail.com)
Antwoord:
Dit is nogal 'n moeilike vraag om so per e-pos te beantwoord omdat die winsgewendheid van jou plan van baie faktore sal afhang soos:
Om jou 'n aanduiding te gee kos dit ongeveer R1 200/ha om groenvoer te plant en te onderhou, R1900 vir Japanese radyse en R2 200 vir Raaigras. Deel die koste deur die bedrag wat jy per kilogram vir byvoorbeeld lammers kan kry en dan weet jy hoeveel kilogram jy per hektaar moet produseer om gelyk te breek. Teen R10/kg lewendige gewig moet jy dus 120 kilogram per hektaar per jaar vanaf groenvoer kan bemark. Dit is netto gewig. Die drakrag sal ook afhang van die tipe skaap en tipe weiding. Elke tipe weiding produseer 'n sekere hoeveelheid droë materiaal per hektaar en 'n skaap van 60 kg benodig ongeveer 1,1kg droë materiaal per dag. Jy moet dus 'n volledige voervloei uitwerk op grond van voer beskikbaar, die aantal diere op die plaas en hulle status (droog, dragtig of lakterend).
Oor die algemeen lyk skape se winsgewendheid tans baie goed omdat skaapvleis in aanvraag is en duur is. Diefstal is 'n wesentlike probleem maar op 22 ha behoort jy dit te kan bestuur, selfs al moet jy hulle toesluit in die aande. Onthou net dat diefstal lank nie meer oor een of twee skape oor 'n lang tydperk gaan nie maar oor hele kuddes wat op een aand gesteel kan word.
Dr. Philip Theunissen www.computus.info
26 April 2006