Vraag:
Ek sal oor 2 jaar in staat wees om 'n plaas te kan koop en af te betaal met 'n lening, maar ek wil graag nou al begin om in 'n vennootskap stoetbeeste te koop op gehuurde grond. M.a.w. klein begin. Wat dink jy van die idee? Die beeste sal met geleende geld gekoop word. Moet ek dit eerder los tot ek die grong gekoop het? Waarvoor moet ek pasop? - Fanie (faniec@shaftsinkers.co.za)
Antwoord:
As jy nie 'n plaas erf nie, is dit 'n goeie manier om deeltyds op gehuurde grond te begin boer. Dit gee jou die geleentheid om eers bedryfskapitaal op te bou voordat jy vaste kapitaal aanskaf. As jy dit in 'n vennootskap kan begin is dit nog soveel beter. Stel net 'n duidelike vennootskapsooreenkoms op waarin daar baie duidelik aangedui word wat gaan gebeur as die vennootskap eendag beëindig gaan word.
Hoewel veepryse nou hoog is, is dit beter om eers die vee aan te koop as die grond. Rentekoerse is nou laag sodat dit 'n lening sal regverdig. Hou net ingedagte dat rentekoerse dalk vorentoe kan styg. In die verlede het Landbank veelenings toegestaan en net die vee as sekuriteit geneem. Ongelukkig het die reëling nou verander en vereis hulle ook, soos ander banke, vaste bates as sekuriteit.
2 Mei 2006