Vraag:
Ek boer nou al 10 jaar op my eie met wyndruiwe, vee en koring. Ek het die afgelope 10 jaar elke jaar groot wingerd-uitbreidings gedoen, deels eie kapitaal en die ander op 'n termynlening.
Wyndruiwe is my hoofinkomste, maar soos ons weet gaan die bedryf nou deur 'n moeilike tyd, die geld is klaar in die grond gespandeer.
Wat ek wil weet hoe kan ek spaargeld opbou in die moeilike tyd? Moet ek geduldig my skuld afbetaal, wat nog ten minste 8 jaar sal neem. Moet ek net maandeliks of jaarliks 'n som geld uit die boerdery onttrek en wegsit? Ek bedoel nie net spaar vir aftrede nie, maar ook vir aankoop van nog eiendom en bates. Ek wil nie eendag afhanklik van die kinders wees nie, daarom wil ek so gou moontlik 'n aksieplan kry. Tot nou toe het ek als in die plaas gesteek. - PRD (prd@absamail.co.za)
Antwoord:
Die beste manier van spaar is om skuld af te betaal terwyl jy nog skuld het. Dit beteken ook dat jy so ver as moontlik nie nuwe skuld moet aangaan nie. Jy sê ook dat jy die afgelope tien jaar lank konstant uitgebrei het. DIt is dalk nou 'n goeie tyd om te konsolideer en die fabriek kans te gee om op vol kapasiteit te kom. Belê winste wat só gaan ontstaan dan eerder buite die landbou as binne omdat jy volgens jou omskrywing dalk reeds 'n goed gevestigde boerdery behoort te hê.
Daar is verskeie maniere om jou geld te belê, maar volgens die FAIS-wetgewing is ek nie by magte om sommer lukraak sulke advies aan jou te verskaf nie. Gesels met 'n betroubare fondsbestuurder soos PSG Konsult. Begin eers deur jou behoefte aan 'n aftreefonds te bepaal en dan kan jy besluit hoeveel en hoe om te belê. Sorg vir uitbetalings vir die kort-, medium- en langtermyn. Hou belasting ook in gedagte. Sekere fondse het kapitaalgroei terwyl ander 'n rente-opbrengs bied. Jy moet dus 'n goeie balans handhaaf tussen onmiddelik beskikbare kontant en beleggings wat redelik vas is. Verder moet jy ook 'n balans handhaaf tussen kapitaalgroei en 'n behoefte aan inkomste.
20 Junie 2006