Landbou
Duurder rente: Moet ek verband aflos?
Dr. PHILIP THEUNISSEN

Vraag:
Ek het 2 woonstelle in 'n stad wat ek 2 jaar gelede gekoop het om te verhuur. Een is kontant betaal en die tweede met 'n verband teen my BK, waarvan ek en my vrou die enigste lede is. Ek het geen probleme met verhuring nie wat deur 'n agent namens my geskied. Die eiendomme het 15 %-22 % groei gelewer. Ek is 66 jaar oud en het die verband van my bank bekom waarvan ek meer as 40 jaar 'n kliënt is.
Weens my ouderdom is die aflostermyn slegs 10 jaar, waarvan 8 nog oor is. My kanse vir verdere verbande raak natuurlik al hoe skraler. In die lig van groeiende rentekoerse na moontlike 16 %, sal dit raadsaam wees om die uitstaande verband nou met 'n belegging af te los, of moet ek die status quo behou? - L. Bornman

Antwoord:
Dit bly altyd die beste belegging om skuld af te los as jy geld beskikbaar het. As jou belegging tans minder as 16 % rente oplewer, moet jy die lening by die bank aflos. Jy hoef nie noodwendig die verband te kanselleer nie dan het jy sekuriteit in plek wanneer jy dalk weer 'n lening wil aangaan.

  • Geskryf deur dr. Philip Theunissen, www.computus.info

    28 November 2006