Vraag:
Wat is die invloed wat inflasie, wisselkoers en rentekoers op 'n wildplaas het? - Jacky (jackyjax@myway.com)
Antwoord:
Dis 'n baie komplekse vraag met drie van die grootste ekonomiese kragte se uitwerking op 'n onderneming en die effek daarvan kan nie sommer in die bestek van 'n geselsblad verskaf word nie. Jy sal dus bietjie meer navorsing moet doen en waarskynlik 'n model met opstel vanaf die wildplaas se kontantvloeibegroting of inkomstestaat.
Die drie kragte: Inflasie, wisselkoers en rentekoers is baie nou verwant aan mekaar en die een beïnvloed noodwendig die ander. Hoë inflasie beteken jou geld word minder werd teen buitelandse geld en dan moet die wisselkoers styg. As die wisselkoers styg, moet mense meer skuld maak om goedere te koop en dan moet die rentkoers styg. As die rentekoers styg, styg sekere goed se pryse weer en die inflasiekoers styg. As die inflasiekoers styg moet wisselkoerse weer styg en as die wisselkoers styg. Kry jy die boodskap?
Hier is wat jy kan doen: Stel 'n kontantvloeibegroting vir die wildplaas op met soveel as moontlik detail vir elke inkomste en uitgawe. Maak nou 'n aanname oor 'n verwagte styging in die drie kragte en pas inkomste sowel as uitgawes daarmee aan. Nie alle items word tot dieselfde mate deur stygings geraak nie. Lone styg nie as die wissel- of rentekoers styg nie maar gaan wel ingevolge die minimum loon wat op die landbou van toepassing is teen 'n reeds vasgestelde bedrag vir die volgende paar jaar styg (statutêre inflasie).
Die wisselkoers het weer 'n invloed op byvoorbeeld diesel, terwyl die rentekoers jou gaan affekteer as jy grondlenings, huurkope of 'n oortrokke bankrekening het. Vat dus jou inkomste en uitgawes van bo af en dink mooi watter van die drie kragte van toepassing is daarop en maak 'n aanpassing ingevolge jou aannames. Doen drie sulke modelle: pessimisties, gemiddeld en dan optimisties, want 'n goeie bestuurder het altyd 'n plan B ook en die bestes het 'n plan C ook.
Sterkte met jou taak.
8 Maart 2007