Landbou
Hoe moelik is onderverdeling?
Dr. PHILIP THEUNISSEN

Vraag:
Ek wil graag 'n 40ha stukkie grond met woonhuis koop by 'n vriend wat dit van sy 1 000ha plaas wil onderverdeel. Ons het onlangs verneem dat die proses om te onderverdeel omslagtig is en nie die moeite werd nie, aangesien dit uiteindelik onderhewig is aan die "diskressie" van die minister.

Is daar dalk prokureurs of agente wat spesialiseer in die onderverdeling van landbougrond in die Mpumalanga/Gauteng-area? En is dit regtig so moelik?

My vriend het die kapitaalinspuiting nodig om sy beesboerdery te laat groei en ek is van plan om deeltyds te boer - voerkraal of varkboerdery met my vriend as vennoot.

Ek kan 25% van die kapitaal leen op my huidige eiendom (of my eiendom verkoop). Leen 'n mens die res by 'n gewone bank of gee net die Landbank lenings vir die koop van landbougrond? - Ivan Smit (ivan.smit@sasol.com)

Antwoord:
In die ou Suid-Afrika was die onderverdeling van landbougrond nie moontlik nie maar die wet is intussen verander. Die bedoeling is egter steeds dat 'n onderverdeling ekonomies moet wees.

'n Prokureur wat aktes kan registreer sal egter die korrekte inligting hieroor hê. As die onderverdeling nie moontlik is nie kan 'n mens selfs na die moontlikheid kyk dat jy wel jou huis bou en jou 40 ha gebruik deur middel van 'n serwituut wat op die bestaande akte in jou guns geregistreer word.

Ek is egter nie so op hoogte met al die wetsaspekte hieroor nie en beveel aan dat jy met 'n aktes-prokureur hieroor praat.

Oor jou tweede vraag: Enige bank gee geld vir die aankoop van landbougrond. Handelsbanke se terugbetalingstermyn is egter tot 10 jaar beperk terwyl Landbank se termyn tot 25 jaar kan gaan.

  • Geskryf deur Dr Philip Theunissen. Besoek sy webwerf by: www.computus.info

    24 Julie 2007