Vraag:
Ek het gehoor as altwee partye in 'n verkoopstransaksie (die verkoper en koper) vir BTW geregistreer is, hoef die BTW nie betaal en geëis te word nie. Dit is glo onnodige rompslomp en kostes. Is ek reg? - Dewald van der Merwe (dewaldvdm@lantic.net)
Antwoord
Die toets is nie of albei vir BTW geregistreer is nie. Die toets is wel of die boerdery as 'n lopende saak verkoop word.
Grond alleen is nie 'n lopende saak nie en die BTW moet dan betaal word al kan die koper dit dan weer later terugeis. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is deesdae baie streng met die toepassing van die lopendesaak-beginsel, want slim prokureurs het in die verlede een bees by die transaksie ingesluit om dit dan as 'n lopende saak - waarby BTW dan nie betaalbaar is nie - deurgevoer te kry.
Selfs huurkontrakte op die grond was in die verlede as lopende sake beskou. SAID word tans dus baie moeilik oortuig en sy houding is dat die koper maar eers die BTW moet betaal en dit dan later kan terugeis - tensy dit werklik 'n lopende saak met grond, vee en implemente is.
01 Oktober 2007