Landbou
Kapitaalwins op onaktiewe BK
Dr. PHILIP THEUNISSEN

Vraag
Ek het in 1990 my huis verkoop om 'n beslote korporasie (BK) te begin. Ek koop toe 'n kleinhoewe in die BK se naam voordat ek vir BTW geregistreer het. Die BK (wat intussen vir BTW geregistreer en weer gederegistreer is) is die afgelope agt jaar nie meer aktief nie.

Sedert BK-stigting het die belastingspeelveld egter verander en sit ek nou met 'n probleem. As ek die BK kon verkoop, sou daar geen probleem wees nie, maar niemand stel belang nie. As ek die kleinhoewe uit die BK verkoop, word kapitaalwinsbelasting (KWB) gehef.

As ek die BK sluit, word ek persoonlik aangeslaan op die kapitaal wat in die BK is. Dit sal 'n aardige bedrag wees as mens dit op die volgende bereken: 1990 aankoop teen R120 000; waardasie met die instelling van KWB = R480 000 en huidige verkoopswaarde = R2 800 000.

Wat sal u raad wees? Kan ek vir SARS vra om die kleinhoewe op my naam oor te dra sonder hereregte, soos wat BK's (wat nie vir BTW gereristreer was) met die instelling van KWB toegelaat was om te doen? Ek besit geen persoonlike eiendom nie. - Johan BOON (Bocalier@vodamail.co.za)

Antwoord
Dit wil inderdaad voorkom of kapitaalwinsbelasting (KWB) jou in hierdie geval "gevang" het. Jy kan die KWB wat jy sal moet betaal wel verminder, maar ek dink nie jy gaan dit kan laat verdwyn nie. Hieronder is 'n voorstel om dit te verminder.

Jy het 'n keuse om die waardasie van R480 000 te gebruik of om die tydtoedelingsformule te gebruik. Volgens die waardasie is jou kapitaalwins R2 320 000.

Die tydtoedelingsformule word só bereken: Verkoopprys x periode in besit voor 01/10/2001 gedeel deur totale periode in besit.
Dus: 2 800 000 x 11/17 = R1 811,765

Hierdie bedrag word nou van R2 800 000 afgetrek en die verskil is dan jou kapitale wins (R988 235).

In die geval van 'n BK maal dit met 50% = R494 117 minus die R15 000 vrystelling = R479 117. Maal met 29% wat die belastingkoers van BK's is en die KWB is dan R138 944.

Indien jou BK vir 'n kleinsake-onderneming (SMME) kwalifiseer is die uiteindelike belasting soos volg:

  • Belasting teen 29% vir die kapitale wins bo R300 000 = R51,944 (Dit is op R479 117 minus R300 000)
  • Belasting teen 10% vir die kapitale wins tussen R40 000 en R300 000 = R26 000
  • Belasting teen 0% vir die kapitale wins onder R40 000 = 0
  • Totale KWB = R77 944. Die uiteinde is dus dat jy op die heel beste dalk net R77 944 se KWB sal betaal as daar nie ander belasbare inkomste ook in die BK is nie, én as die BK as SMME kan kwalifiseer.

  • Geskryf deur Dr Philip Theunissen. Besoek sy webwerf by: www.computus.info

  • Lesers gebruik inligting wat op hierdie webwerf gepubliseer is, op hul eie risiko. Sien ook Landbou.com se aafdeling vir kopiereg en privaatheid.)

    17 Oktober 2007