Landbou
Kostedispuut oor bewerkingstelsel
KOOS LE ROUX

Die volgende stuk word as agtergrond aangehaal uit 'n kursus wat ek vir verskeie landbou-instansies aanbied. By die keuse van 'n bewerkingstelsel speel die klimaat en tipe grond 'n groot rol. 'n Derde aspek wat nog nie genoem is nie, is natuurlik die koste om so 'n stelsel te bedryf. Die koste van so 'n bewerkingstelsel bestaan uit die volgende afdelings:

  • Die kapitale uitleg vir 'n bepaalde stelsel.
  • Die bedryfskoste van die stelsel.

    Die kapitale uitleg vir die stelsel
    Kortliks kom dit neer op watter trekkers en werktuie nodig is om 'n stelsel na behore te bedryf. Om die optimale aantal eenhede te bepaal, behoort daar 'n behoorlike meganisasiebeplanning van 'n stelsel of van die stelsel wat oorweeg word, gedoen te word.

    Die bedryfskoste van die stelsel
    Om die bedryfskoste van 'n stelsel te bereken, word die Meganisasiegids van J. P. le Roux gebruik. Die volgende koste is ter sprake:
    Vaste koste

  • Waardevermindering
  • Rente op belegging
  • Diverse koste

    Lopende koste

  • Herstel en onderhoudskoste
  • Brandstofkoste

    Die verduidelikende aantekeninge vir die gebruik van die gids gee volledige inligting oor die wyse waarop die kosteberekenings gedoen is. (Raadpleeg die gids hieroor.)

    Vaste koste
    Vaste koste onstaan die moment as trekkers en implemente aangeskaf word. Dikwels word hierdie koste totaal en al deur baie boere buite rekening gelaat omdat dit nie onmiddelikke uitgawes gedurende 'n bewerking vereis nie. Om dit egter nie in berekening te bring nie skep egter 'n wanindruk van die koste. Indien 'n kontrakteur hierdie vaste koste buite rekening laat sal hy gou iut die bedryf verdwyn.

    Lopende koste
    Lopende koste bestaan uit twee komponente:
    Herstel- en onderhoudkoste
    Oor die gebruiksleeftyd van 'n trekker of werktuig is daar herstel- en onderhoudkoste wat in aanmerking geneem moet word om die korrekte koste van 'n bewerking te bepaal. In die Meganisasiegids van Le Roux word 'n metode verduidelik hoe om dit te bereken.

    Brandstofkoste
    Indien daar na brandstofverbruikskurwes van trekkers gekyk word, sien ons dat oor die totale kilowatt- en tork-uitset die spesifieke brandstof gebruik in liter/kilowatt-uur wissel tussen 0,25 tot 0,35 l/kW-uur, waar 0,25 l/kW-uur by die beste krag/tork-benutting van die enjin is.

    Die dispuut-geval in Delmas
    Ons gebruik 'n 80 - 90 kW 4WD, toegerus met 4,3m saadbed-werktuig.

    As ons aanvaar dat hierdie kombinasie in los grond werk, gebruik dit ongeveer 55 % van sy enjnkrag om die implement te trek: 85 x 55 % = 46,75 kW.
    Indien brandstofverbruik geneem word as 0,32 l/kW-uur (onthou die trekker werk in hierdie geval nie op sy mees ekonomies punt nie).
    Gebruik: liter/uur: 46,75 x 0,32 = 14,96 l/uur.
    Werktempo van kombinasie volgens die Meganisasiegids: 28,50 ha/10 uur dag of 2,85 ha/uur.
    Brandstofverbruik per hektaar is: 14,96/2,85 = 5,24 l/ha.
    Teen 'n prys van R 4,50/l is die brandstofkoste reeds 5,24 x 4,50 = R23,58/ha.
    Uit die gids moet ons nog die volgende koste bytel:
    Herstel en onderhoud: R21,40/ha
    Totale loopkoste: R44,98/ha
    As ons nou die vaste koste deel bytel (uit gids): R37,97/ha
    Totaal van alle koste: R82,95/ha

    Dit kom dus voor dat die R28,00/ha wat boere in Delmas gebruik, nie alle koste in berekening bring nie. Dit kan dalk net die loopkoste verteenwoordig.

    4 Junie 2005