Vinnige internettoegang vir boere ís moontlik, dit kan goedkoop aangebied word en dit werk lekker, sê 'n boer wat self 'n netwerk op die been gebring het en nou bereid is om ander boere te help om dié tegnologie baas te raak.
Wireless Boer het op Landbouweekblad se gespreksforum aan 'n debat deelgeneem oor breëband-toegang tot die internet vir boere. Hy skryf:
"Ek wil graag aansluit by die gesrprek (op die forum) en byvoeg dat Sentech, Telkom, Vodacom, MTN en IBurst waarskynlik ook nie beplan om binnekort breëband-internetdienste aan die landelike gemeenskap en boere aan te bied nie. Dit is net nie kostedoeltreffend nie of dit maak nie genoeg besigheidsin nie weens die lae bevolkingsdigtheid om die kapitaalkoste van toerusting en sagteware te delg nie.
"Die nadeel van GPRS is egter die lae spoed - veral die oplaai-spoed - asook die hoë koste van data met die verskillende pakkette van Vodacom, MTN en CellC. Verdere nadele is die feit dat die spoed baie afhanklik is van hoe ver 'n mens van die seltoring af is, asook hoe besig die toring met gewone stemoproepe is. Die voordeel weer, indien jy 'n Blackberry besit, is dat jy ten volle mobiel is en dit kan in stede gebruik kan word waar 3G en Edge-tegnologie beskikbaar is.
"Ek het al meer as 'n jaar terug met hierdie probleme geworstel en gesien dat hierdie maatskappye, veral Telkom, nie daarin belangstel om ons as boere behulpsaam te wees nie. Ek, as gekwalifiseerde meganiese ingenieur, het toe begin om my eie navorsing te doen en na aanleiding van wat in Amerika en elders in die wêreld suksesvol gebruik word, besluit om my eie draadlose internetkonneksie vanaf 'n dorp met ADSL-toegang aan te lê.
"Die dorp is 30 km van my af. Gelukkig het die toerusting in daardie stadium ook heelwat goedkoop begin raak en ek kon dit relatief goedkoop doen.
"Soos dit maar gaan het my buurman my 'super-vinnige' internet gesien en hy wou dit ook onmiddelik hê. Ek het ingestem, op voorwaarde dat hy my 'n fooi betaal om te help met lopende koste asook onderhoudskoste, instandhoudingskoste op die netwerk, ens.: Alles wat verband hou met internettoegang en e-pos en en dit te maak werk en te laat aanhou werk.
"Die nuus het vinnig verprei en voor ek my kon kry moes ek hierdie diens aan bykans 20 van my medeboere voorsien. Dit het skielik 'n voltydse taak geword en ek het 'n vennoot gekry, met ondervinding van internetdiensverskaffing, rekenaars, routers, e-pos-bedieners, ens., om 'n sake-onderneming te begin.
"Ons het 'n lisensie gekry om internet-diensverkafferdienste aan te bied en begin om sulke netwerke op ander plekke ook uit te rol, meestal vir die boeregemeenskap. Ons verskaf aan plaasskole en landelike skole feitlik gratis internet en maak dit vir hul moontlik om met die buitewêreld in kontak te bly deur die sogenaamde "Voice over Internet protocol" (VOIP) en Skype terwyl hul telefoonlyne hul nie eens toelaat om fakse te kan stuur of ontvang nie, wat nog te sê internet-bankdienste doen met 'n inskakel-rekening.
"Daar is ook baie ander voordele van so 'n netwerk, naamlik sekuriteitskameras, -monitors, pompe, skakelaars, videokonferensies en nog baie ander toepassings. Die grootste uitgawe is die aanvanklike koste van die toerusting vir die oprig van die netwerk, maar die voordele van die gebruik daarvan is soveel meer werd.
"Wat ek dus vir ander boere wil sê is dat dit moontlik is, dat dit goedkoop aangebied kan word, en dat dit baie lekker werk. Ek is lewende getuie daarvan, asook verskeie ander plattelandse boere/kelders/besighede. Mense is welkom om my per e-pos te kontak vir verdere besonderhede. Ons kan gemeenskappe help om hulle eie netwerke te vestig, of hulle oplei om dit self te onderhou, of dit namens hul te doen teen 'n fooi. Ons onderneming is in die Wes Kaap."
20 September 2005