Landbou-entoesiaste met 'n belangstelling in implemente en Wes-Kaapse landbouprodukte het onlangs op die skilderagtige Bolandse plaas, Bien Donné, bymekaargekom vir die 2005 Bien Donné Expo.
Die expo, wat vir die 63ste keer deur die Landbounavorsingsraad (LNR) se tuinbou-afdeling aangebied is, het vanjaar nuwer geleenthede soos wildboerdery, jag, olyfverbouing en kleinskaalse wynmaak beklemtoon.
Volgens dr. Johan van Zyl, Navorsing- en Tegnologiebestuurder van die LNR Infruitec Nietvoorbij is vernuwing vanjaar veral teweeggebring deur interaktiewe lesings en demonstrasies oor relevante onderwerpe by die program in te sluit.
Meer as 'n kwart van die 150 uitstallers het vanjaar vir die eerste keer aan die expo deelgeneem en was verstom oor die hoeveelheid besigheid wat genereer is. Teen middagete was hul produkte lank reeds uitverkoop, vertel mnr. Igor Rix van die Kaapse Vlakte Landbouvereniging, een van die uitstallers in die splinternuwe Varsproduktemark.
Uitstallers het hul kreatiewe kragte behoorlik ingespan om hul stalletjies so aanloklik as moontlik vir besoekers te maak. Kilo Treads het die prys vir die mees indrukwekkende stalletjie gekry terwyl, Jay Trade en New Holland onderskeidelik tweede en derde plek behaal het.
Benewens die nuutste implemente en navorsing, was daar ook 'n Plaasmark waar besoekers kon kies en keur uit plaasprodukte soos boegoe, olywe, olyfolie, biltong, droëvrugte en bessies.
Die herinstelling van die Bien Donné Expo-damesoggend, was 'n groot trekpleister en dames het van sover as Citrusdal gereis om dié ontbyt by te woon. Aanbiedings deur die bekende skrywer, Riana Scheepers en Hetta van Deventer, sjef/eienaar van Laborie-restaurant in die Paarl het veral belangstelling geniet.
Plaaswerkers van omliggende streke het hul bestuursvernuf gewys in 'n trekkerbestuurkompetisie wat deur die Paarl en Wellingtonse landbouverenigings aangebied is. Die span van De Rust-plaas in Wellington, is as wenners aangewys en beloon met kontantpryse.
Volgens die organiseerder van die expo, me. Eunice Kotzé van Definitely Different, het die Bien Donné Expo nou op 'n nuwe pad begin en sal die suksesvolle aspekte van vanjaar se expo volgende jaar verder uit gebrei word.
Die 2006 Bien Donné Expo vind van Donderdag 2 November tot Saterdag 4 November op die Bien Donné proefplaas tussen die Paarl en Franschhoek plaas. Vir verdere inligting besoek www.biendonne-expo.co.za of kontak Elma Brand by tel 021 863 0397, sel 082 808 1114 of e-pos events@definitelydifferent.co.za.
21 November 2005