Vier Suid-Afrikaanse vroue gaan hul kaasmaak-vermoëns verder in Frankryk slyp, dansky 'n samewerkingsooreenkoms tussen dié twee lande.
Die Wes-Kaapse LUR van landbou, mnr. Kobus Dowry, het dié nuus by die Qualite-toekennings van die SA Suiwelkampioenskap op Stellenbosh bekend gemaak.
"Dit is duidelik dat die opleidingsprogram vir jong kaasmakers van die Wes-Kaap wat in 2005 in Boergondië begin is, die geleentheid bied aan jong kaasmakers, veral vanuit voorheen benadeelde gemeenskappe om hulself verder te bekwaam binne die groeiende kaasbedryf", het hy gesê.
Die Wes-Kaapse departement van landbou in samewerking met die streekregering van Boergondië en die Franse departement van buitelandse sake verskaf die finansiering vir hierdie projek. Dit sal vir die tweede jaar vier kaasmakers in staat stel om die kursus by te woon wat vanaf 12 tot 30 Junie 2006 sal duur. Mnr. Kobus Mulder van Agri Expo sal die groep vergesel aangesien Agri Expo die praktiese reëlings met betrekking tot die opleiding tref.
Die kandidate sal 'n praktiese fase by twee fabrieke deurloop in die produksie van tipiese Franse kase. Dit sal gevolg word deur 'n bemarkingsmodule, wat sal fokus op kommersiële aspekte van die kaasbedryf. Hulle sal ook blootgestel word aan die innoverende gebruike van kaas.
Die vier kandidate wat vannaand genomineer is, is gekies na 'n streng keuringsprosess wat plaasgevind het onder die toesig van Agri Expo. Die vroue is:
Ná afloop van die kursus moet elkeen 'n voorlegging aan hul onderskeie maatskappye doen en hul vordering sal op 'n deurlopende basis gemonitor word. Dit word beoog dat hulle in die toekoms as mentors sal optree vir jong kaasmakers uit voorheen benadeelde gemeenskappe.
Dowry het gesê dit is verblydend dat al vier dié kandidate vroue is aangesien die bemagtiging van vroue ook in die landbou vir die regering 'n baie hoë prioriteit is.
28 April 2006