Landbou
Derduisende te wen in Jeugboerwedstryd


Waar's die land se voornemende boertjies? Spesiaal vir julle het Landbouweekblad en Absa AgriBesigheid en Kleinhandelsbankdienste 'n bielie van 'n wedstryd met 'n totale borggeld van R240 000!

Ons soek na die leerder of skool met die beste landbouprojek in die land. Al wat julle moet doen, is om saam met die skoolhoof te besluit of 'n groepprojek of 'n enkele leerling se projek ingeskryf gaan word.

Die doel van die wedstryd is om die beste landbouprojek aan te wys, hetsy 'n enkele leerder of die skool (groep) s'n . In albei gevalle word slegs een inskrywing per skool toegelaat en net leerders in graad 10 en 11 mag betrokke wees.

Landbouskole met hul eie grond, sowel as projekskole - dit is landbouskole wat nie hul eie plase het nie, maar boere se grond vir projekte en praktiese werk gebruik - mag deelneem. Die aantal skole wat vir deelname in aanmerking kom, is sowat veertig.

Slegs nuwe projekte mag ingeskryf word. Dus kom matriekprojekte wat reeds begin is, glad nie in aanmerking nie; ook nie een van die skool se bestaande boerderyprojekte nie. Dit sal verseker dat almal op dieselfde grondslag beoordeel kan word.

Inskrywings geskied aan die hand van 'n sakeplan (sien net hieronder en ook in Landbouweekblad van 5 Mei, bl. 32 en 33). Inskrywings moet elektronies geskied. Beperk die inskrywing tot duisend woorde. Stuur die inskrywingsvorm en sakeplan aan ons jeugnuus-koördineerder, Charl van Rooyen (cvanrooy@landbou.com). Dit moet hom voor of op 26 Mei bereik. Skole wat nie e-posgeriewe het nie, kan hom bel (012 420 7893) vir 'n inskrywingsvorm. Ná voltooiing kan dit aan hom gefaks word.

Uit al die inskrywings sal tien finaliste van reg oor die land deur 'n paneel van vyf beoordelaars aangewys word. Die paneel bestaan uit drie boere, een wetenskaplike en een landbou-ekonoom. Die beoordeling vind begin Junie plaas en die name van die finaliste word op 15 Junie bekend gemaak.

Daar is R20 000 beskikbaar vir elk van die finaliste. Dit bestaan uit R10 000 kontant, asook 'n verdere R10 000 in 'n Absa-leningsrekening waaruit geld vir die projek onttrek word, maar die verstandige finansiële bestuur daarvan speel 'n rol in die wedstryd.

Sodra die finaliste aangewys is, kan dié skole met hul projekte begin, wat binne vier maande afgehandel moet word. Die finale projekverslag moet voor of op 13 Oktober by Van Rooyen wees. Vorderingsverslae moet ook einde Julie en einde Augustus verskaf word. Alle maandverslae en die finale verslag moet na cvanrooy@landbou.com. gestuur word. Intussen gaan 'n verslaggewer van Landbouweekblad en Absa se Agri-spesialiste of landbou-ekonome die projekte besoek om te kyk hoe die leerders vorder.

Die wenner sal voor die eindeksamens op 'n spesiale geleentheid aangewys word. Verteenwoordigers van al die finaliste sal genooi word. Die wenner ontvang 'n wisseltrofee en R20 000 prysgeld.

En natuurlik is die beoordelaars se beslissing bindend en finaal. Enigiemand wat inskryf, lê hul neer by die wedstryd se reëls. Ook mag niemand wat aan Absa of Landbouweekblad verbonde is of 'n familielid het wat daar werk, aan die wedstryd deelneem nie (geen direkteur, lid, vennoot, werknemer, agent of konsultant van Absa of Landbouweekblad, of enigeen wat met die organisering van die wedstryd verbind is nie; ook nie 'n gade, lewensmaat, ouer, broer, suster, sakevennoot of geassosieerde van sodanige persoon nie).

Alle deelnemers en wenners stel die organiseerders, hul reklame-agentskappe, adviseurs, verskaffers, genomineerde agente en handelaars skadeloos teen alle eise wat hoegenaamd mag voorspruit uit die kompetisie.

SALOV steun wedstryd
Die jeugboerwedstryd het die volle steun van die Suid-Afrikaanse Landbou-onderwysverenging (SALOV). Die voorsitter, mnr. Gerhard Viljoen, sê daar is reeds geruime tyd behoefte aan 'n publikasie waar die jeug se landbou-aktiwiteite aan die groot klok gehang kan word. Die prestasies wat leerlinge aan landbouskole behaal, is vergelykbaar met van die beste skole in die land.
Hy sê hy hoop landbouskole sal hul inligting aan Landbouweekblad stuur sodat die breë publiek kan sien wat gedoen word om landbou-onderrig te bevorder.

Stel besigheidsplan só op
Die opstel van 'n weldeurdagte besigheidsplan is van kardinale belang en vorm die basis van beoordeling deur die paneel.

Deelnemers kan die volgende ses maklike stappe volg om die besigheidsplan op te stel:
Stap 1: Identifiseer die doelwitte.
Stap 2: Ontwikkel 'n raamwerk.
Stap 3: Hersien die raamwerk.
Stap 4: Skryf die besigheidsplan.
Stap 5: Hersien die besigheidsplan.
Stap 6: Opdatering van die besigheidsplan.

'n Totale punt uit 100 sal aan elke besigheidsplan toegeken word. Die inhoud moet die volgende insluit:

Opsomming

Besigheidsomskrywing (25 punte)

  • Tipe besigheid/landbouprojek
  • Kapitale behoefte en doelwitte
  • Bedryfsanalise
  • Visie
  • Missie
  • Doelwitte
  • Strategie
  • Bestuursplan
  • Eienskappe
  • Markbehoefte

    Marknavorsing en aannames (25 punte)

  • Markoorsig en omvang
  • Marksegment en markaandeel
  • Groeipotensiaal
  • Klanteprofiel
  • Mededinging
  • Geografiese faktore wat mark beïnvloed
  • Beperkende faktore tot marktoegang
  • Bemarkingstrategie

    Operasionele Plan (25 punte)

  • Fasiliteite
  • Indiensneming/personeelbehoefte
  • Administratiewe behoeftes en plan
  • Masjinerie/voertuie/toerusting
  • Diensverskaffers

    Finansiële plan (25 punte)

  • Aannames, definisies en notas
  • Geprojekteerde kontantvloei-, balans- en inkomstestaat
  • Gedetailleerde uiteensetting van kapitale behoefte
  • Bron en aanwending van kapitaal
  • Risiko-analise
  • Finansiële risiko
  • Wisselkoersrisiko se impak
  • Rentekoersrisiko
  • Produksie/uitsetrisiko
  • Prysrisiko
  • Ander risiko's
  • Enige ander verduidelikings notas

    Die leerder/projekgroep kan ook Absa se webblad (www.absa.co.za/Business/Small Business - Toolbox) vir 'n meer omvattende beskrywing besoek.

    'n Engelse weergawe van dié dokumente is by Van Rooyen beskikbaar.

  • Vrywaring:
    Absa/Landbouweekblad of enige van hul agente of kontrakteurs aanvaar geen verantwoordelikheid van enige aard vir enige verlies wat ervaar deur enige natuurlike juristiese persoon mag word wat van die inligting in die artikel gebruik maak nie. Enige persoon/instansie wat van hierdie inligting gebruik maak doen dit uitsluitlik op eie risiko.

    12 Mei 2006