Landbou

Me. Eleonor Visser, 2006 se Vrouewynmaker van die Jaar.
Soortgelyk
Vrouewynmaker van die Jaar bekroon


Me. Eleonor Visser, wynmaker by Winecorp in Stellenbosch, het haar tweede groot wynkompetisie in minder as 'n jaar gewen, deur Donderdagaand aangewys is as Landbouweekblad se Vrouewynmaker van die Jaar.

Akltesame 33 ander vroue het vir dié kompetsie, wat deur Landbouweekblad geborg word, ingeskryf.

Vroeër vanjaar het Visser ook die eerste vrou geword om WINE Magazine se gesogte TOPS at SPAR Chenin blanc-kompetisie te wen. Van haar se ander prestasies sluit in:

  • Drie agtereenvolgende 4½-stertoekennings deur die John Platter-wyngids vir haar Spier Private Collection Sauvignon blanc.
  • Haar Longridge Chardonnay is legendaries, met die 2002-oesjaar wat 'n tweede plek in die Chardonnay of the World-kompetisie in Frankryk verower het asook goue medaljes by Veritas en Concours Mondial de Bruxelles in België en vier en 'n half-sterre in Platter.

    Afgesien van Visser, was die vier finaliste vir hierdie jaar se kompetisie:

  • Carla Pauw (Anura, Paarl).
  • Mariska Schreuder (Bergwater, Prins Albert).
  • Erika Obermeyer (Graham Beck Wyne, Franschhoek).
  • Mary-Lou Nash (Black Pearl Wyne, Paarl).

    Nadat die vyf finaliste se wyne uitgesoek is, het die beoordelaars met die wynmakers onderhoude gevoer.

    Visser het drie Winecorp-wyne ingeskryf: Spier Private Collection Viognier 2005, Spier Vintage Selection Sauvignon blanc 2006, Longridge Chardonnay 2005.

    Volgens me. Christine Rudman, Kaapse wynmeester en sameroeper van die beoordelaarspaneel, het Visser se verbeeldingryke seleksie van witwyne bewys dat sy verskeie kultivars bemeester het, insluitende 'n "onverbeterlike" Cap Classique-vonkelwyn, gemaak van Pinot noir en Chardonnay.

    "Eleonor het uitgeblink met eersteklas witwyne in 'n kompetisie wat vanjaar veral gekenmerk is deur die kwaliteit rooiwyne wat ingeskryf is," sê Rudman. "Gedurende die onderhoud-afdeling van die kompetisie het Eleonor die beoordelaars oorrompel met haar grasie en passie vir wyn, die wynmaakproses, sowel as die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Sy is 'n waardige wenner op wie Winecorp, Stellenbosch en die hele Suid-Afrikaanse wynbedryf trots kan wees."

    Rudman sê verder dat vanjaar se kompetisie baie divers was. "Ons het inskrywings van groot korporasies in die hart van die wynland gehad sowel as van meer landelike kelders van nuwe, meer afgesonderde wyngebiede, soos Prins Albert," se Rudman. "Daar was rooiwyne, versnitte, vonkelwyne en witwyne. Die wynmakers het gewissel van diegene wat universiteitsgrade behaal het tot wynmakers wat hulle self geleer wynmaak het deur boeke te lees.

    "Op haar eie manier het elke deelnemer haar liefde vir wyn, die wingerd, en die grond gewys. Hulle is mense wat wynmaak nie as 'n werk beskou nie, maar as 'n roeping, en 'n lewenslange verbintenis. Na meer as dertig jaar in die wynbedryf, maak vroue van dié kaliber in die bedryf my baie trots."

    Dr. Johan van Rooyen, uitvoerende hoof van die SA Wynbedryfsraad en gasspreker by vanjaar se pryswennersdinee, sê Landbouweekblad se SA Vrouewynmaker van die Jaar-kompetisie is in lyn met die bedryf se strategie om ambassadeurs in die Suid-Afrikaanse wynbedryf te identifiseer.

    "Ons praat altyd van druiwe, terroir, wynmaaktegnieke en biodiversiteit," sê Van Rooyen, "maar dit is nou die tyd vir Suid-Afrika om te fokus op 'n unieke aspek van die wynbedryf, naamlik mense. Die bedryf moet die verskillende rolle wat individue vervul, beklemtoon. Rolmodelle moet optree as ambassadeurs vir handelsmerk Suid-Afrika. Eleonor Visser is 'n waardige ambassadeur vir die plaaslike wynbedryf, 'n talentvolle wynmaker wat 'n gesig en 'n persoonlikheid aan die produk verleen."

    Afgesien van Christine Rudman het vanjaar se beoordelaarspaneel bestaan uit: Norma Ratcliffe van die Warwick-wynlandgoed, me. Debbie Burden, verede jaar se wenner en wynmaker by Simonsig, me. Jo-Anne Metler, skakelbeampte by L'Ormarins, me. Caroline Rillema, van Caroline's Fine Wines en me. Marilyn Cooper, hoof van die Kaapse wynakademie.

    Me. Lorraine Immelman-Steyn, stigter en organiseerder van die kompetisie sê die belangstelling in die kompetisie groei beslis, en dat dit nou behoorlik 'n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse wynkalender is.

    "Die aantal inskrywings groei jaarliks en die kompetisie trek wynmakers van groot, gevestigde kelders sowel as van kleiner kelders uit die minder bekende wynstreke," sê sy.

    "Die kompetisie is nommerpas vir die ekonomiese klimaat waarin die wynbedryf tans beweeg. Met die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat onlangs sy toewyding aan die binnelandse wynmark beloof het, en met die Suid-Afrikaanse vrou wat die grootste gedeelte van die besluite neem by die koop van wyn, poog die kompetisie om wyn as 'n algehele leefstylproduk te bevorder deur uitstekende vrouewynmakers as 'n belangrike skakel in ons wynkultuur te identifiseer.

    "Die bewusmaking van hierdie wyn-ambassadeurs lei tot die bevordering van die veelsydige aard van die wynbedryf en volg op die gewildheid van die Champagne Lanson Woman in Wine-toekenning (wat jaarliks by die International Wine and Spirits Fair in Londen aangebied word) asook op die Shoprite-Checkers Vrou van die Jaar-toekenning."

    Vanjaar se wenner stap weg met 'n reis ter waarde van R25 000 na die Franse wynmaak-streek van Bordeaux.

    21 Julie 2006