Tydens 'n spogdinee op Kleinplasie in Worcester, het mnr. Cobus Dowry, LUR vir Landbou in die Wes-Kaap, pryse oorhandig aan die klaswenners van die Nasionale Jeugskoukampioenskap wat vanaf 25 - 27 September plaasgevind het. Hierdie kampioenskap groei van jaar tot jaar en die Wes-Kaap het as die algehele wenner van 2006 uit die stryd getree.
Altesame 251 leerlinge van regoor Suid-Afrika het in 13 kategorieë deelgeneem wat gewissel het van vleis- en suiwelbeeste, vleis- en wolskape, angora-, boer- en melkbokke tot pluimvee, duiwe en konyne.
Leerders het ook kans gekry om hul talente ten toon te stel met tuisbedryf- en suiwelprodukte. Beoordelaars wat van regoor die land aangewys is, is dit eens dat deelnemers op die hoë standaard van vorige kampioenskappe verbeter het.
Mpumalanga en Noordwes het onderskeidelik die tweede and derde beste gevaar as daar gekyk word na algehele prestasie in die skouman en groepklasse.
Volgens die organiseerders, die Wes-Kaap Landbou Jeugvereniging, bied die kampioenskap 'n gelyke geleentheid aan alle deelnemers. Leerders wat nie oor hulle eie diere beskik nie, kan diere gebruik wat goedgunstiglik deur telers voorsien word.
Die beoordelaars let veral op die leerders se breër kennis van die ras, sowel as voeding en gesondheidsorg. Verder word fyn gekyk na leerders se vaardighede wanneer dit by die was en voorbereiding van skoudiere kom, terwyl faktore soos netheid, die korrekte skouprosedure vir elke ras en die vertoner se houding belangrik is wanneer die skouring betree word.
Agri-Expo is een van die borge vir die Nasionale en Wes-Kaap Jeugskoukampioenskap as deel van sy missie om die beeld van landbou in die Wes-Kaap te bevorder.
"Ons glo dat dié kampioenskappe instrumenteel is om 'n liefde vir diere by jongmense te kweek wat dan ook inslag vind in 'n gesonde respek vir die landboubedryf," sê mnr. Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo.
Die Wes-Kaap Landbou Jeugvereniging het uit Agri-Expo ontstaan en in 'n onafhanklike organisasie ontwikkel wat reeds sedert 1999 geleenthede vir die Wes-Kaapse jeug skep om by die landbousektor betrokke te raak, hetsy as buitemuurse aktiwiteit of as 'n moontlike loopbaan of entrepreneursgeleentheid.
2 Oktober 2006