Landbou
Meeste trekkers in 10 jaar verkoop


Algehele verkope vir die 2006-kalenderjaar was 5 724 eenhede, 22 % meer as die 4 677 eenhede wat in 2005 verkoop is. Trekkerverkope vir 2006 was die hoogste sedert 1996 toe net meer as 6 000 eenhede verkoop is, sê mnr. Charles Van Niekerk, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie.

Trekkerverkope van 308 eenhede in Desember is byna 13 % hoër as die 273 eenhede wat in Desember verlede jaar verkoop is.

Stroperverkope vir die jaar (2006) was byna 6 % hoër as verkope vir die vorige jaar. Balerverkope was veral goed in 2006 en die 518 eenhede wat verkoop is, is 24 % meer as die 417 eenhede wat in 2005 verkoop is.

Die volgehoue hoë vlak van trekker- en stroperverkope volg op die verwagte toename van 70 % in die aanplanting van mielies vir die seisoen, goeie gewaspryse, algemene optimisme in die bedryf en die onlangse uitvoerverkope van trekkers en stropers. Hoewel die algemene optimisme in die bedryf volgehou word, is opvolgreën in al die gebiede noodsaaklik om goeie somer-oeste te verseker.

Volgens ramings in die bedryf, sal trekkerverkope vir 2007 sowat 5 000 eenhede wees, 10 % minder as verkope verlede jaar. Verwagtinge in die landboumasjineriebedryf is gewoonlik konserwatief aan die begin van die jaar, omdat die vooruitsigte vir somergewasse gewoonlik nog onseker is. Die aanvanklike ramings kan verander soos die jaar vorder, afhangend van weersomstandighede.

11 Januarie 2007