Landbou
Inspuiting vir mentorskap


Die Melkprodusente-organisasie se Instituut vir Suiweltegnologie het bykans R1 miljoen van die nasionale Departement van Landbou ontvang om opkomende melkboere te mentor, het dr. Nico Schutte, mede-besturende direkteur van die Instituut bekend gemaak.

Die projek behels die begeleiding van opkomende melkboere deur gekwalifiseerde mentors oor die verloop van een jaar. Van die mentors sal verwag word om ten minste agt ure per week by elke opkomende melkboer te bestee. Die begeleiding behels alle aspekte van suksesvolle boerdery - van voervloeibeplanning en dieregesondheid tot bemarking. Die doel met die mentorprogram is om die langtermyn voortbestaan van begunstigdes te verseker.

"Met dié bedrag kan die Instituut 15 opkomende melkboere vir een jaar intensief mentor. Elke mentor sal vir hoogstens vier begunstigdes verantwoordelik wees," het dr. Schutte gesê. Elf begunstigdes in Qwaqwa, Noordwes en die Wes-Kaap is reeds geïdentifiseer en die Instituut is besig om met hulle te onderhandel.

Mentors sal ervare, afgetrede suksesvolle melkboere of voorligters wees wat saam met die begunstigdes sal werk asof hulle by hulle eie ondernemings betrokke is. "Dit is baie belangrik dat die mentors en begunstigdes 'n vertrouensverhouding opbou en daarom word baie moeite gedoen om seker te maak dat mentors en begunstigdes by mekaar pas. Die sukses van hierdie projek hang van dié verhouding af," het dr. Schutte gesê.

Die Instituut kort nog ervare mentors en belangstellendes word genooi om met dr. Schutte in verbinding te tree by 012 843 5600.

29 Januarie 2007