Landbou
Groot pryse vir landbouskole
NICO VAN BURICK

Die 2007-Jeugboerwedstryd vir landbouskole, wat deur Absa en Landbouweekblad geborg word, het pas vir 'n tweede keer afgeskop.

Die wedstryd se totale borggeld beloop R235 000, waarvan tot R40 000 na die wenskool sal gaan (R20 000 vir die projek en R20 000 prysgeld). Die wedstryd is oop vir alle landbouskole; nie slegs landbouskole met hul eie grond nie. Projekskole wat bure se grond vir projekte en praktiese werk gebruik, mag ook deelneem.

Die doel van die wedstryd is om die leerder of skool met die beste landbouprojek in die land aan te wys. 'n Groepprojek of 'n enkele leerling se projek (in albei gevalle slegs een inskrywing per skool) kan ingeskryf word. Die wedstryd is net vir leerders in graad 10 en 11.

Net nuwe projekte mag ingeskryf word; dus geen projekte wat reeds begin is nie; ook nie een van die skool se bestaande boerderyprojekte nie. Dit sal verseker dat almal op dieselfde grondslag beoordeel kan word.

Inskrywings geskied aan die hand van 'n besigheidsplan. Al die inskrywings moet elektronies geskied. Skole moet hul inskrywingsvorm en besigheidsplan per e-pos aan Nico van Burick van Landbouweekblad by nvburick@landbou.com stuur. Die inskrywings moet hom voor of op 9 Mei bereik. Skole wat nie e-posgeriewe het nie, kan Nico bel vir die reëls en nadere besonderhede. Na voltooing van die sakeplan kan dit aan hom gefaks word by 012 420 7899.

Uit al die inskrywings sal 10 finaliste van regoor die land deur 'n paneel van vyf beoordelaars aangewys word. Die paneel bestaan uit drie boere, een wetenskaplike en een landbou-ekonoom. Die beoordeling vind 11 Mei plaas en die finaliste sal onmiddelik daarna in kennis gestel word.

Daar is R20 000 beskikbaar vir elk van die finalisskole. Die geld moet vir die projek benut word en verstandige finansiële bestuur speel 'n rol in die wedstryd. Die geld vir die projekte en die prysgeld word deur Absa AgriBesigheid en Absa Kleinhandelsbankdienste geborg.

Sodra die finaliste aangewys is, kan dié skole met hul projekte begin, wat voor 17 Oktober afgehandel moet word. Intussen gaan 'n verslaggewer van Landbouweekblad en Absa se Agri-spesialiste/landbou-ekonome julle besoek om die vordering te bekyk.

Die finaliste sal op 17 Oktober byeen kom om voorleggings oor hulle projekte voor die span beoordelaars te maak, waarna die wenners bekend gemaak sal word. Die wenner ontvang R20 000 prysgeld, die skool wat tweede kom R10 000 en 'n derde plek verdien R5 000.

Die jeugboerwedstryd het die volle steun van die Suid-Afrikaanse Landbou-onderwysersverenging (SALOV).

  • Navrae: Nico van Burick (Landbouweekblad) by 012 420 7803 of Bankies Malan (Absa) by 011 350 6197. Klik hier om die riglyne en reëls van die kompetisie te lees.

    23 Maart 2007