Landbou
Boere se beeld: Konfrontasie vs. 'kruip'
MAARTEN KRUGER (maarten@vodamail.co.za)

'n Interessante debat oor die beeld van die landbou is onlangs op die gespreksforum gevoer. Hier is twee bydraes.

Ek meen ál die landbou-organisasies hoop om in die toekoms meer swart lede te werf. As hulle daarom nou standpunte inneem wat swartes sal laat voel dié organisasies is net vir blankes, sal hulle hulself in die voet skiet.

As hierdie organisasies werklik meen dat politiek nie by hulle hoort nie, moet hulle onthou die Regering het 'n politieke speelbal van die landbou gemaak. As hulle nie by die politiek wil betrokke raak nie, beteken hulle niks vir boere nie.

Die vorige Minister van Landbou en Grondsake het ongegronde uitlatings oor die landbou gemaak en ek het destyds gewaarsku dat die organisasies haar nie moet toelaat om dit te doen nie. In Desember verlede jaar het die bom gebars toe die nuwe minister, me. Lulu Xingwana, dieselfde soort goed gesê het. Die ironie is dat sy en die organisasies nou weer groot tjomme is, al het sy nog nie om verskoning gevra nie.

En in die media is boere as die skurke voorgehou.

Pres. Thabo Mbeki het op die ANC se 95ste verjaarsdagviering dieselfde uitlatings as Xingwana gemaak nadat die organisasies haar by hom verkla het. Niemand het 'n woord daaroor gerep nie.

Ná 14 jaar van niksdoen is daar nog bitter min swart boere. En wie word geblameer? Die wit ouens.

Ons word nou gestraf. Ons sal binnekort ons plase eers aan die Regering moet aanbied as ons dit wil verkoop, ons sal grondbelasting moet betaal en die grootte van ons plase gaan beperk word.

Ek gesels met 'n swart vriend wat 'n B.Com.-graad het. Hy sê swart mense sien die land se boere as die mees gewelddadige en rassistiese groep. Hoeveel boere is al weens hierdie indruk vermoor?

Soos dinge nou gaan, gaan Suid-Afrika in dieselfde rigting as Zimbabwe. Dalk nie so gewelddadig nie, maar ons gaan met belastings en ander intimidasiemetodes van ons plase gesit word.

Die landbou-organisasies moes lankal vir die Regering gesê het: "Kyk, ons werk saam. Staak nou die valse beskuldigings en propaganda teen die boere of julle is op jul eie. Anders werk ons nie meer saam nie en gaan dinge lelik raak in die land."

Ek meen die meeste boere wíl saamwerk. As hulle my in beheer stel, sal ek seker maak dat 30 % van die land se grond voor 2014 in swart besit is - sonder om iemand ongelukkig te maak. Die Regering wil dit egter nie hê nie, want dit pas nie in by sy politieke agenda nie.

Wie weet, miskien is ek verniet bang. Miskien is die prentjie nie so donker soos ek dit sien en ervaar nie. Maar dan moet dit met feite gestaaf word.

Ek wil net weer in vrede, sonder die vrees dat ek môre kan wakker word en die Regering het my plaas gevat, na my plaas toe gaan en sonder om myself soos 'n gevangene hoef toe te sluit.

Iemand het op die forum gesê sy boerdery is vir hom 'n "stokperdjie" en as dinge nie reg uitwerk nie, verkoop hy. My toekoms is in my plaas en boerdery. Dit is my pensioen. As ek dit verloor, sit ek op straat.

LOUIS HAUMAN, louis@soetvlakte.co.za, antwoord:
Maarten, jy stel dit duidelik dat daar 'n ongunstige indruk oor die landbou is. Hierdie indruk is ook by die minister en die President te sien. As ek dit reg verstaan, is dit 'n baie moeilike ding om te verander. Die slim mense sê 'n mens moet dit eerder met 'n ander (gunstige) indruk vervang, soos "die situasie het verander."

Jy sê die organisasies moes al lankal vir die Regering gesê het: Kyk, ons werk saam. Weet jy hoe hard probeer die TLU SA en Agri SA om dit te doen?

As ek sê dat politieke probleme net in die politiek opgelos kan word, sê ek nie dat die georganiseerde landbou nie 'n belangrike rol daarin te speel het deur die gee van inligting en deur bedinging en beïnvloeding nie. Wat ek wel sê, is dat die oplossing buite die landbou lê. Daarom kan die georganiseerde landbou nie die skuld kry as die oplossing nie kom nie.

Dit is belangrik dat boere se verteenwoordigers hul werk doeltreffend doen, maar ek gaan nie bedank as hulle nie in my voorgeskrewe tyd daarin slaag nie. Dit is moeiliker as om 'n skakelaar aan en af te sit.

Jy maak 'n belangrike punt: Ons dring nie deur nie. Dít is die frustrasie van die landbou se manne en vroue daar bo. Hulle klop, maar daar word nie oopgemaak nie; hulle praat (met goeie bedoelings), maar daar word nie geluister nie. Maar om harde koejawel te speel, is nie 'n opsie nie. Regerings het die mag om sulke groepe vinnig stil te maak en dit sal vir die radikale groepe skietgoed gee om te sê: "Ons het julle mos gewaarsku - jy kan nie 'n boer vertrou nie."

My benadering sou eerder wees om strategies die swart mense wat besef dat boere hier is om te bly en 'n goeie bydrae kan lewer, van die nodige argumente te voorsien om die gety te help draai.

Ek staan 'n ferm, menslike en professionele standpunt voor wat op die einddoel gefokus is. Die bou van bande is verkieslik bo konfrontasie - selfs in moeilike situasies, soos ná die minister se uitsprake.

Vir sommige mense mag dit na kruip lyk, maar ek meen geen openbare figuur hou daarvan om in die openbaar verkeerd bewys te word nie. As jy sulke mense moet reghelp, moet jou einddoel wees dat die nadelige goed nie weer gebeur nie of minder gereeld gebeur en nie dat jy om verskoning gevra moet word nie.

Ek wil glo dat ons nie op pad is na 'n Zimbabwe toe nie. As daar nog baie mense is wat dink ons is, maak dit ons taak nog soveel groter om die koers van Suid-Afrika se geskiedenis te verander.

Ek stem met jou saam dat die grondhervormingsdoelwitte haalbaar is. Maar of die Regering die politieke wil en vermoë het, is 'n ander saak. Die uitdaging is groot, gegewe die politieke bagasie wat hy moet saamdra (baie verwagtinge waaraan voldoen moet word).

Suid-Afrikaners moet daarin slaag om mekaar te aanvaar (mét ons bagasie) as ons 'n toekoms hier wil hê. Elkeen moet sy deel doen.

Landbouweekblad, 20 April 2007