Die Regering en georganiseerde landbou het in sy jongste vergadering van die Presidensiële Werkgroep verskeie kwessies aangeroer. Meer duidelikheid hieroor word verkry uit Agri SA se jonste nuusbrief wat hy pas aan sy lede gestuur het. Die inhoud van die nuusbrief word hier weergegee.
Grondhervorming
Die Werkgroep is toegelig oor die sogenaamde "Special Purpose Vehicle" of SPV wat sedert 2006 deur 'n taakgroep van die CEO-Forum onder voorsitterskap van mnr. Mdu Shabane, die adjunk Direkteur-generaal van die Departement van Grondsake, bespreek en ontwikkel is.
Dit sal 'n outonome struktuur wees wat kragtens 'n magtigende bepaling van die Land Bankwet daargestel word met die doel om 'n spektrum funksies wat met grondhervorming en swart boerontwikkeling verband hou meer effektief te koördineer en te bestuur met die doel om grondhervormingsdoelwitte binne die gestelde tydskale te bereik, insluitend die effektiewe kommersialisering van die landbou-betrokkenheid van die begunstigdes.
Die president, mnr. Thabo Mebki, het ongemak daarmee dat só 'n belangrike funksie ondergeskik gestel word aan die Land Bank, waarop aan hom die versekering gegee is dat dit nie 'n hindernis sal wees om wyer samewerking tussen die onderskeie staatsorgane en die georganiseerde landbou deur middel van die SPV te bewerkstellig nie.
Shabane het verder bevestig dat effektiewe vennootskapsreëlings 'n kritieke voorwaarde vir die sukses van die SPV is en in die verband voorsien hy die aangaan van formele ooreenkomste met die georganiseerde landbou as 'n vertrekpunt vir die bereiking hiervan. Hy het verder aangedui dat die argitektuur van die SPV waarskynlik nie voor Augustus 2007 op papier gefinaliseer sal wees nie en dat dit daarna nog 'n tyd sal neem om dit formeel op te rig, die institusionele kapasiteit te skep en die nodige befondsing in plek te kry.
Hy het aangedui dat die teiken om 30% landbougrond wat in 1994 in blanke besit was teen 2014 aan voorheen benadeelde gemeenskappe oor te dra op sigself 'n verdere R35 miljard benodig maar dat aanvullend hiertoe 'n verdere R75 miljard benodig sal word om sodanige grond produktief in die hand van nuwe grondeienaars te hou.
Vir dié doel is omvattende ondersteuning in samewerking met die kommersiële landbou nodig. Oor die befondsing en toepaslike aanwending van laasgenoemde bedrag is daar klaarblyklik nog verskeie uitstaande kwessies wat aangespreek moet word.
'n Kort bespreking is gevoer oor wat die implikasies van grootskaalse grondoordrag op die boeregemeenskap kan wees, in agnemende dat daar in die Suider Afrikaanse konteks voedseltekorte en onderbenutte landboupotensiaal is.
In besprekings is daarop gewys dat Suid-Afrikaanse kommersiële boere in buurlande die bedryf kan betree deur markgeleenthede vir organiese voedsel en bio-brandsofgewasse te ontwikkel en sodoende ook bydra tot breëbasis ontwikkeling. Daar moet derhalwe gekyk word oor hoe Blanke boere wat grond vir transformasie doeleindes afstaan, in Suider Afrikaanse konteks hulle kundigheid met landbou-ontwikkeling kan gebruik.
Daar moet op inter-regeringsvlak 'n aanvaarbare bedeling vir hierdie doel geskep word.
Strategiese Landbouplan
'n Onverwagte hoogtepunt van die Werkgroepvergadering was pres. Mbeki se ferm bevestiging dat landboubeleid binne die raamwerk van die Strategiese Landbouplan in vennootskap met die georganiseerde landbou bedryf moet word. Nadat die leiers van afvaardigings 'n spektrum aspekte uitgelig het wat nie in die sakelys opgeneem was nie, het die President opgemerk dat met die uitsondering van bio-brandstof al die ander sake op die een of ander wyse in die Strategiese Landbouplan opgeneem is en binne daardie konteks ge-evalueer moet word.
Hy het nie verdere aandag aan die tersaaklike insette gegee nie. Dit is aan Mbeki voorgehou dat daar reeds besluit is om vordering met die implementering van die Strategiese Landbouplan te evalueer. In aansluiting hierby was dit sy standpunt dat spesifiek aandag gegee moet word aan die vordering of gebrek aan vordering met die bereiking van doelwitte wat in die Strategiese Landbouplan opgeneem is, die redes vir 'n gebrek aan vordering en voorstelle oor hoe sodanige gebreke uit die weg geruim kan word.
Hy het verder onderneem om by die afhandeling van die evalueringsproses 'n dag af te staan aan die bespreking hiervan sodat alle belanghebbendes die geleentheid kan kry om hieraan deel te neem en duidelikheid te verkry oor die pad vorentoe.
Eiendomsbelasting en uitsprake
Die President het kennis geneem dat daar op grondvlak in landbougeledere ongemak is oor hoe eiendomsbelasting op landbougrond van toepassing gemaak word en dat Agri SA in die verband samesprekings met die Minister van Provinsiale en Plaaslike Regering aangevra het.
Agri SA se ongemak met politieke uitsprake oor sensitiewe kwessies soos grond en arbeid wat die middelgrond van die landbougemeenskap ondermyn en polarisasie aanmoedig, is ook onder Mbeki se aandag gebring.
Samewerking
Pres. Mbeki het met waardering kennis geneem van die samewerkingsverhouding tussen Agri SA en NAFU SA en het dit beklemtoon dat dit een van die belangrike uitkomste van die Strategiese Landbouplan is om eenheid te bevorder.
Biobrandstof
'n Voorlegging is gedoen oor die bio-brandstofbeleid wat dit as teiken stel om 'n 4,5% inmengsvlak teen 2013 te bereik wat 1 miljard liter bio-brandstof per jaar impliseer. Om dit te bereik moet 10 miljoen ton geskikte landbougewasse op 'n addisionele 3 miljoen hektaar verbou word, met inbegrip van onderbenutte grond in die voormalige tuislande. Die moontlikheid van die lisensiëring van bio-brandstof aanlegte is in die vooruitsig gestel om vervoer en hanteringskoste te beperk en ekonomiese lewensvatbaarheid te optimaliseer - 'n aangeleentheid wat verdere evaluering regverdig.
'n Bespreking is gevoer oor beleidsverstellings, beheermaatreëls en aansporings wat nodig is om die plaaslike bio-brandstofbeleid op dreef te kry. Dit is aangedui dat die regering gaan poog om teen einde Junie 2007 oor die meeste van die uitstaande kwessies - waaroor departemente soos Minerale en Energie, Landbou en Tesourie nog onderhandelings voer - uitsluitsel te kry.
Landboutariefbeleid
Die Werkgroep is ingelig dat beleidsdokumente oor landbouhandel en -tariewe - na wye oorlegpleging in die landbou tussen die staat en landbou-organisasies - nou die stadium bereik het dat die regering dit kan oorweeg vir goedkeuring en toepassing. In die voorlegging is daarop gewys dat die landbou aan omvattende bemarkings deregulering en handelsliberalisering blootgestel was terwyl die globale landbouhandel steeds deur subsidies en beskerming verwring word.
Suid-Afrikaanse boere en arm landelike gemeenskappe het die hoogste prys vir aanpassings by hierdie omstandighede betaal. Dit word in die vooruitsig gestel dat 'n tariefbedeling geskep en toegepas moet word wat 'n meer gelyke speelveld vir plaaslike produsente in verhouding tot buitelandse mededinging tot gevolg sal hê.
Die Direkteurs-generaal van die departemente van Landbou en van Handel en Nywerheid het onderneem om die nodige voorbereidings te tref sodat die Kabinet hieroor 'n beleidsbesluit kan neem.
Heersende droogte
Die droogtesiklus sedert 2003 en die gevolge daarvan op die boeregemeenskap maar ook op voedselpryse is onder oë geneem. Daar is kennis geneem van werk wat reeds gedoen is om die effek van die droogte in sekere provinsies en bedryfstakke te bepaal asook om toepaslike hulpmaatreëls te formaliseer. Die Kabinet sal hieroor toeligting kry sodra prosesse deurloop is.
Ten opsigte van voedselprys-inflasie is daarvan kennis geneem dat pryse van sekere stapelvoedsel vinniger toeneem as die algemene inflasiekoers. Dr. Mohammad Karaan, voorsitter van die Nasionale Bemarkingsraad, het aangedui dat daar binnekort 'n gesprek met die kleinhandel oor die monitering van voedselpryse gevoer gaan word en dat die Mededingingskommissie ondersoeke in die graan- en suiwelbedryf onderweg het.
24 Mei 2007