Landbou
Boer: Heeltyds teen deeltyds


Deeltydse boere meen heeltydse boere verstaan nie hul omstandighede nie. En andersom.

Die betrokkenheid van deeltydse boere by die georganiseerde landbou het in die jongste tyd heelwat reaksie ontlok op die Gespreksforum op www.landbou.com. Lees hier wat forumlede kwytgeraak het.

A.L. Terre Blanche, terreb@mweb.co.za:
Besef die georganiseerde landbou in hoe belangrik en dinamies die deeltydse/naweekboere in die land is? Te oordeel na talle boodskappe op die Gespreksforum wil dit voorkom asof Agri SA en die TLU SA nie werklik aan die verwagtinge van hierdie sektor van die landboubedryf te voldoen nie. Het die tyd nie aangebreek om 'n organisasie te stig om spesifiek na die belange van die deeltydse boer om te sien nie?

Francois Holloway, fholloway@google mail.com:
Deeltydse boere maak 'n groot deel van die landboubedryf uit en word misken. Dit is ook die deel van die landbou wat met baie min of geen skuld gedoen word.

Soos ek self al ondervind het, sien die heeltydse boer dikwels neer op die deeltydse boer. Daar word ook gesê dat dit net 'n "duur stokperdjie" is.

Ek sien dit in my omgewing. Die boere is vaag as jy hul ondervinding wil tap en hulle sal sonder om te skroom swak diere aan jou verkoop. Of jou bevark as hulle toerusting aan jou verhuur, ens.

'n Organisasie vir deeltydse boere sal net net verdere verdeling beteken. Ek meen die landbou moet onder een sambreel bly en almal moet in ag geneem word.

Maarten Kruger, maarten@vodamail.co.za:
Die georganiseerde landbou moet besef die boer van die toekoms verander - nie omdat hy wil nie, maar omdat die omstandighede hom druk. Ons het 'n organisasie nodig wat dit in ag neem in onderhandelinge met die Regering. Kyk maar hoe die wetgewing rondom belasting die afgelope jare tot die nadeel van die deeltydse boer aangepas is.

Ek meen die bestaande organisasies wil of het nog nie besef dat dinge verander nie. Die deeltydse boer word gesien as 'n "onding" wat die lewe vir die heeltydse boer moeilik maak. Die enigste probleem wat ek met 'n organisasie vir deeltydse boere voorsien, is dat hulle dit sal ondersteun nie.

Louis Hauman, louis@soetvlakte.co.za:
Tensy jy besef meer as 40 % van jou sukses as boer word buite jou plaashek bepaal, gaan jy sukkel om die geheelprentjie te verstaan. As 'n paar dinge in die produksie-omgewing nie behoue bly nie, is daar nie 'n toekoms in die landbou in Suid-Afrika nie. Jy moet daarom besluit wat jy doen om jou omgewing in stand te hou of te verbeter. 'n Voorbeeld: Wat doen jy om die skool te behou waarin jou kleinkinders moet skoolgaan? Of gaan jy dan 'n ander plan maak?

As die invoerbeskerming vir vleis nou afgeskaf word, kan die plaaslike produsent nie meeding nie. Dink ook wie gaan beding vir paaie, telefoonlyne of internetverbinding, klinieke wat jou mense besoek, ens.

Willie Clack, WClack@unisa.ac.za:
In my geval is ek 280 km van my boerevereniging af en hy hou al sy vergaderings in die week. Daardie manne het nie werklik 'n gevoel vir die omstandighede van die deeltydse boer nie.

Francois Holloway, fholloway@google mail.com:
My boerdery word soos enige ander onderneming bestuur. Ek verwag geen voorkeur van die staat af nie. Wat paaie, telefoonlyne, ens. betref . . . Soos hulle sê, ek kan nie kla nie, want dit bestaan nie.

My werkers se kinders gaan op die dorp skool. Dit maak tog meer sin om 'n skool met 2 000 leerders te ondersteun as een met 20 leerders. Ek vat my werkers dorp toe na die staatshospitaal of -klinieke as dit nodig is. Dit maak meer sin as om 'n ondoeltreffende mobiele kliniek te ondersteun.

As die wetgewing oor die invoer van vleis verval, sal ons moet aanpas. 'n Deel van die probleem in die landbou is dat verandering moeilik aanvaar en hanteer word. Die landbou is onder die wanindruk dat hy spesiale voorkeur moet kry. Of is dit die geval dat hy nie meer sy sin kry nie?

Louis Meintjes, louis@agriwebsa.com:
Verstaan die deeltydse manne en het hulle 'n gevoel vir die heeltydse boer?

Die heeltydse boer is elke dag op sy plaas. As daar 'n brand is, los hy alles en gaan help om dit te blus - ook by die buurman wat deeltyds boer. Vanaand ry hy patrollie om te help met misdaadbestryding en beskerm só almal se eiendom.

Daar is ook probleme met heeltydse boere. En daar is betrokke deeltydse boere.

Maar dis mos standaard om te vat sonder om terug te gee. Ons is nie betrokke nie, want dan moet ons iets doen. En as ons iets doen, maak ons dalk 'n fout en dan word ons gekritiseer.

Ek wil net vir die boere wat betrokke is, onderhandel en veg. Dan sal die draadsitters agterkom wat die organisasies vir die boer beteken.

Maarten Kruger, maarten@vodamail.co.za:
Hoe raak jy betrokke by 'n klomp mense wat jou soos 'n melaatse behandel?

Louis Hauman, louis@soetvlakte.co.za:
Hou op om soos 'n melaatse op te tree. Iemand anders het gesê boere wat brand slaan, kom net bymekaar om te drink. As jy vir 'n paar dae en nagte aanmekaar brand geslaan het en die vuur is dood, is jy honger en dors. Ek praat nie 'n drinkery goed nie, maar verkies 'n boer wat sy bier kom drink nadat die vuur geblus is as die een wat maak of hy nie van die brand weet nie.

Willie Clack, WClack@unisa.ac.za:
Betrokkenheid verskil van boer tot boer en dit maak nie saak of hy heeltyds of deeltyds boer nie. Ek kan egter nie vergaderings bywoon wat in die middel van die week in die oggend gehou word nie en my maters daar in Noordwes verstaan dit nie.

Maarten Kruger, maarten@vodamail.co.za:
Hoewel ek deeltyds boer, het my pa, wat my op die plaas help, namens my die vergaderings bygewoon totdat hy genoeg gehad het. Die eerste spreekbeurte gaan aan die mense wat die gekuier ná die tyd borg.) Teen die tyd dat 'n mens by die belangrike sake kom, is daar nie meer tyd nie.

Francois Holloway, fholloway@google mail.com:
In my omgewing is geen betrokkenheid nie. Daar word wel nou en dan padblokkades gehou waar die manne eintlik net bymekaar kom om brandewyn te drink. Ek kan uit beginsel nie deel van so 'n organisasie wees nie. Die enigste manier hoe ons as deeltyds boere erkenning gaan kry, is om by heeltydse boere se organisasies aan te sluit.

Louis Hauman, louis@soetvlakte.co.za:
Ek gee nie om waar deeltydse boere inskakel nie. Vir my is hul ledegeld belangrik, maar hul tyd en siening is selfs belangriker. Die lekkerste van deelname is die kans om vir iemand anders iets te doen - al is dit net luister.

Louis Meintjes, louis@agriwebsa.com:
As die TLU SA en Agri SA so sleg is, hoekom raak jy nie betrokke en stel die saak reg nie? Verkies mense wat die werk beter kan of wil doen. Moenie net kritiseer nie!

Elke keer as die een of ander voordeel die boer toeval, vra waar dit vandaan kom as jy nie betrokke is nie. Sou dit te danke wees aan die twee unies, moenie die voordeel aanvaar nie. Dan sal ek respek vir jou hê en jou onbetrokkenheid aanvaar.

Vir al die boere wat betrokke is: Sterkte! Geniet die bier of dop as jy klaar vuur geslaan het en moeg en swart gebrand is.

Landbouweekblad, 7 September 2007