Die publikasie van 'n grondeis in Levubu het tot 'n geskatte inkomsteverlies van tot R50 miljoen per jaar in dié distrik gelei, sê 'n vrugteprodusent. Daar is egter ook voordele.
Die Levubu-grondeis is in 2000 gepubliseer en grondeienaars het 'n amptelike kennisgewing in dié verband in dieselfde tyd ontvang. Van die boere het kennis gegee dat hulle die eis gaan teenstaan en die nodige prosedure gevolg terwyl ander boere hulle grond aangebied het. Die oordragproses het lank geduur en het uiteindelik aan die einde van 2005 begin van 2006 plaasgevind. Die bestuur van die gronde is aan twee sogenaamde strategiese vennote oorgedra.
'n Vooraanstaande avokado-, makadamia- en koejawelprodusent van Levubu, mnr. Piet Muller, sê die invloed van grondeise hou gunstige én ongunstige gevolge vir die Levubu-gemeenskap in.
Hy was die naweek een van die sprekers tydens die TLU SA Noord se Landbou-Ekspo op Polokwane. Muller is voorsitter van die Suid-Afrikaanse Makadamia Kwekersvereniging, ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Avokado Kwekersvereniging, en dien in die direksie van Mopani Pakkers, 'n avokado-pakhuis wat die Levubu-gebied bedien.
Hy sê dié onsekerheid het grootliks nuwe ontwikkeling tot stilstand gebring wat ernstige langtermyn ekonomiese gevolge sal hê.
Met die uitbeweeg uit die gebied van 40% van die boere het dit onvermydelike leemtes gelaat in 'n voorheen relatief digbevolkte gebied. Dit het geleentheid geskep vir rondlopers, misdadigers en veral onwettiges uit Zimbabwe om binne die gebied te kom nesskrop, wat tot groter misdaad gelei het.
Meeste boere wat die gebied verlaat het, was selfversorgend en redelik welvarend. Die oop plaashuise wat goedkoop verhuur word, het 'n invloei van mense, wat elders teenspoed opgetel het en 'n heenkome soek, tot gevolg gehad. Dit het 'n toename in maatskaplike probleme tot gevolg. Die grootste gemeente in Levubu het so bv. al vir die eerste 6 maande van vanjaar reeds ongeveer R11 000 aan voedselhulp spandeer teenoor die normale R5 000 per jaar.
Die plaaslike laerskool is ook nadelig geraak en die aantal leerlinge het van 160 na 90 gedaal, met die gevolglike verlies aan personeel.
Muller sê die ekonomiese impak van die ramp wat hom in Levubu sedert 2000 afspeel, is astronomies en dit het ook 'n invloed op ander besighede en die landbou-infrastruktuur. Hy sê avokado- en lietjsie-uitvoerpakhuise ervaar reeds die druk van dalende volumes omdat genoegsame volume om eenheidskoste laag te hou, krities is vir hulle voortbestaan.
Die gemiddelde aantal uitvoerkartonne vir die laaste 2 jaar toon 'n daling teenoor 3 jaar gelede van 63,5% en 38,5% vir lietsjie en avokados onderskeidelik. Dit het tot 'n daling in inkomste van ongeveer R8 miljoen tot R10 miljoen vir die gebied vir avokadoes en lietsjies alleen. Wat makadamias betref is groot hoeveelhede neute van oorgeneemde plase vanjaar by fabrieke weggewys weens kwaliteitsprobleme. Vir makadamias, lietjies en avokados is die totale verlies dus ongeveer R10-R14 miljoen.
Hy sê wat kontantgewasse aanbetref is die situasie nóg slegter. Voor die oorname het die grootste vervoer-onderneming uit die gebied 8-10 vragte varsprodukte per week na die mark vervoer. Dit verteenwoordig ongeveer 240-320 ton per week. Dié onderneming het sy deure gesluit en die huidige vervoerbesigheid sukkel om 2 vragte per week uit die gebied te stuur. Die totale hoeveelheid is tans ongeveer 40 tot 60 ton per week.
Muller beraam dat die totale verlies aan inkomste vir die gebied - baie konserwatief bereken - iewers tussen R30 miljoen tot R50 miljoen per jaar kan wees. Die rimpel-effek hiervan op die ekonomie van die Levubu/Louis Trichardt omgewing asook die Limpopo provinsie is geweldig.
Hy sê die mislukking van die Levubu-grondoordrag hou verskeie implikasies vir landbouvertroue en voedselsekerheid vir die res van die land in. Die agteruitgang ná oordrag is nie vreemd vir ander dele waar grond reeds oorgedra is nie. Indien dieselfde lot wag vir die mikpunt van 30% van Suid-Afrika se hoëpotensiaalgronde hou dit ernstige implikasies vir voedselproduksie in die land in.
Bitter min grond is in Levubu verkoop sedert die eis gepubliseer is. Geen goeie aanduiding van markverwante grondpryse kan dus in Levubu verkry word nie. Levubu het dus agtergebly by die stygende eiendomsmark in die res van die land. Dit skep 'n groot probleem vir mense, veral ouer mense wat graag wil uittree en regtig wil verkoop.
Daar is egter ook positiewe aspekte wat na vore kom deur die uitdagings wat aan die gemeenskap gestel is.
Die gebeure in Levubu het die gemeenskap gedwing om aanpassings te maak om te oorleef. Dit kom tot uiting op verskeie tereine maar kan opgesom word in groter eensgesindheid. Die oorblywende boere staan beter saam omdat almal 'n doelbewuste besluit geneem het dat hul saak suiwer en reg is en dat hulle 'n reg het om in Levubu te bly. Diegene wat oorgebly het se uitkyk op die lewe, lewenswaardes en doelwitte stem meer ooreen wat beter samewerking bevorder. Uitvloeisels hieruit is dat lidmaatskap en betrokkenheid van die boerevereniging, asook kerke en ander organisasies verbeter het, ten spyte van 'n 25 -30% verlies aan mense uit die gemeenskap.
Omdat 'n deel van Levubu se produkte nie meer die markte bereik nie, skep dit uitbreidingsgeleenthede vir dapper entrepeneurs wat verby die ongunstige kan kyk en bereid is om die risiko's te loop wat bestaan.
Muller sê ten spyte van al die genoemde probleme, sowel as 'n paar ander, soos koueskade, gaan dit goed op Levubu. Ekonomies spartel baie van die boere en gaan dit op die oomblik nie so goed soos altyd nie. Indien alles in ag geneem word, soos die voorreg om te kan leef en boer in 'n lieflike omgewing en alles wat daarmee saamgaan, besef boere dat hulle steeds geseënd is. Hy sê dit wat die boere in 'n gebied waarmee hulle vertroud is en wat hulle ken het, gaan moeilik weer opgebou word op 'n ander plek sonder dat dieselfde bedreigings hulle ook uiteindelik daar inhaal.
2 Oktober 2007