Landbou

'n Border Leicester.
Skaap en haas-kruising?


Dié foto is deur 'n lid van die gespreksforum, Leonie Kellerman, ingestuur. Sy vra: "Wat kry jy as jy 'n skaap met 'n haas kruis? Antwoord: 'n Border Leicester".

Hierop het dr. Schalk Cloete, 'n bekende veekundige van Elsenburg, die volgende geskryf:
Daar is vir my nogal 'n goeie storie daaroor. Ek was nog maar 'n seuntjie toe dit gebeur het, so ek kan nie vir die feitelike korrektheid instaan nie. In elk geval, dit gaan so:
Oorlede dr. George Hunter het ongeveer in 1956 met 'n Britse kollega saamgespan om die eerste suksesvolle transkontinentale embrio-oorplasing te bewerkstellig. Ek dink hy het destyds op Cedara gewerk. In elk geval, die Engelse Border Leicester embrio?s is in 'n konyn ingevlieg. Die embrios is uitgespoel, en in vooraf voorbereide Dorperooie oorgeplaas. Ná vyf maande het die Dorperooie dus geboorte gegee aan die Border Leicester-lammers, met ore net soos die skaap op jou foto. Omdat dit 'n eerste was, is foto?s om dit te staaf in Hafez se omvattende boek oor reproduksie in plaasdiere opgeneem (vir die wat moontlik toegang tot Hafez het).

In elk geval, die eintlike storie is dat die werkers wat saam met dr. Hunter die proses meegemaak het, blykbaar vas daarvan oortuig dat die konyn se invloed duidelik weerspieël word in die lammers se ore. Met geen kennis van die Border Leicester as 'n skaapras nie, is dit mos die enigste logiese gevolgtrekking!

  • Geskryf deur dr. Schalk Cloete, Elsenburg, op die gespreksforum.

    7 November 2007