Landbou
Landbou-ekonoom kap Du Toit
Deur dr. PHILIP THEUNISSEN

Dit was met verbystering, dalk eerder skok, wat ek die adjunk-minister van Landbou, mnr. Dirk du Toit, se onderhoud met Hanlie Retief in Rapport van 21 Oktober gelees het. My eerste reaksie was om dit met dieselfde minagting te hanteer soos enige ander radikale ekstreme karikatuur wat 'n platvorm soek waar hy gehoor kan word. Ek wou daaroor lag maar het toe besef dat hierdie persoon een van die sleutelfigure is wat die landboubeleid vir kommersiële boere moet vaslê. Gevolglik kan ek dit nie as 'n grap afmaak nie en moet ek daarop reageer.

Vir mnr. Du Toit se inligting:

  • Ek is by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters geregistreer en het 'n rekenmeesterspraktyk op Bethlehem;
  • Ek het ook drie nagraadse kwalifikasies, waaronder 'n Ph D, in landbou-ekonomie;
  • Buiten die gewone rekenmeesterswerk doen ek ook die afgelope 17 jaar elke jaar landbou-ekonomiese ontledings vir my boere-kliënte. Hierdie groep boere is oor 'n wye gebied in die Oos-Vrystaat versprei.

    Ek wil die bewerings van etniese suiwering, deur middel van sogenaamde afsettings van plaasarbeiders, sommer onmiddelik in die kiem smoor. Hierdie groep boere van my het in 1995 gemiddel 18 permanente plaasarbeiders in diens gehad. Hoewel dit in 2001 tot 15 gedaal het en in 2003 na 18 gestyg het, het hierdie boere in 2006 gemiddeld 17 permanente plaasarbeiders in diens gehad. Gemiddeld was daar dus 'n vermindering van een plaasarbeider per boer oor 'n tydperk van 11 jaar gewees. Indien hierdie vermindering die gevolg van etniese suiwering is, gebeur dit teen 'n uiters trae pas.

    Ek wil graag in meer besonderhede enkele finansiële gegewens van die afgelope ses jaar onder die adjunk-minister se aandag bring deur middel van die volgende tabel:

    Die Oos-Vrystaatse groep boere se netto wins/ha vir die afgelope ses jaar was gemiddeld R92.31/ha. Dit was egter baie wisselvallig oor die tydperk met 'n wins van R591,32 in 2004 maar 'n verlies van R351,18 in 2006. Die gemiddelde uitgawe vir lone en rantsoene vir dieselfde tydperk beloop R96,10/ha. Anders as die wisselvallige netto wins van die groep boere, toon die loonuitgawe egter 'n konstante styging van R68,94/ha in 2001 tot R166,65 in 2006. Hoewel die boere se privaat uitgawes reeds afgetrek is voor die berekening van die netto wins, beteken die syfers tog dat hierdie groep boere gemiddeld meer in hulle plaasarbeiders geïnvesteer het as wat hulle terug in die boerdery kon investeer. Die rentabiliteit op eie kapitaal was gemiddeld 6% oor die ses jaar wat gelykstaande is aan die huidige inflasiekoers en selfs minder is as die opbrengs van 'n kontantdeposito by 'n handelsbank.

    Ek wil klem lê op die . kon investeer . want die Regering se beleid van geen beskerming teen gesubsidieerde graaninvoere het veral 'n uiters nadelige invloed op plaaslike koringboere gehad. Die koringvertakking van hierdie groep boere het vir drie van die ses jare 'n verlies getoon terwyl 2006 amper as 'n gelykbreekjaar beskou kan word. Hoewel dit beter met mielies gegaan het, is daar geen beskerming vir Suid-Afrikaanse boere se netto wins nie en is die bedrag wat vir herinvestering beskikbaar is aansienlik minder as hulle gesubsidieerde eweknieë in Noord-Amerika en Europa.

    Boere word ook gereeld daarvan beskuldig dat plaasarbeiders 'n karige loon betaal word waarop hulle nie kan oorleef nie. Gevolglik het die regering in 2004 'n minimum loon vir plaasarbeiders vagestel. Teen hierdie agtergrond het ek in 2004 'n loonopname onder my kliënte gedoen en die resultate daarvan verskyn in die volgende tabel:

    In 2004 is die minimum loon vir plaasarbeiders in plattelandse gebiede op R650 per maand vasgestel. Op daardie stadium het boere in die Oos-Vrystaat reeds hulle veewagters, die laagste besoldigdes op die plaas, teen 'n pakket van R753 per maand vergoed, wat R103 per maand meer as die vasgestelde minimum loon was. Trekkerdrywers het toe reeds R887 per maand ontvang terwyl voertuigbestuurders R1 123 per maand ontvang het. Die aanname dat plaaswerkers ondervergoed word is dus ook nie waar nie.

    Hoewel die syfers wat ek gebruik het 'n steekproef van boere in die Oos-Vrystaat is, het ek goeie rede om te glo dat dit 'n aanduiding is van wat in ander dele van die land geld. Indien die adjunk-minister nie hieroor met my saamstem nie, moet hy ten minste dan Oos-Vrystaatse boere uitsondering wanneer hy in die algemeen ongegronde beskuldigings van etniese suiwering maak.

    In my eerlike opinie is dit tyd dat die adjunk-minsiter nou moet vergeet van die blik verf wat amper twee dekades gelede op sy Mazdatjie omgekeer is. Hy maak van homself 'n ongewilde mens met sy wrokke uit die verlede. Dis allermins Lourie Bosman wat spin op die storie sit.

    Ons is reeds in 2007, dertien jaar die nuwe Suid-Afrika in. Die meeste boere is lankal reeds uit die verlede binne-in die hede met hulle plaasarbeiders. In 2007 is dit tyd vir die adjunk-minister om eerder op die winsgewendheid en volhoubaarheid van kommersiële landbou te konsentreer. Dan sal die landbousektor uiteraard nog beter vir plaasarbeiders kan sorg as wat alreeds die geval is.

  • Geskryf deur dr. Philip Theunissen, Computus Bestuursburo, Bethlehem.

    8 November 2007