Landbou
Beurtkrag knou plaasvakansies


"Ek dink nie mens besef aldag die werklike rimpeleffek wat beurtkrag op die landbou het nie," skryf mnr. August du Preez, besturende direkteur van Farmstay, 'n internet-onderneming wat plaasvakansies bemark en verkoop.

"In my klein omgewing met www.farmstay.co.za waar ek sowat 500 eko-fasiliteite, veral op plase met aanlyn internet-besprekings ondersteun, is die gevolg dat ek dikwels tot 5 ure per dag sonder internet en telefone moes klaarkom - dit is besigheid wat vir die landbou en ons landelike ekonomieë verlore gaan.

"Die kort en lank van die storie is dat jou besigheid se naam in gedrang kom - mense wat jou probeer kontak (vanoor die hele Suid-Afrika en wêreld) kry eenvoudig 'n besettoon oor die foon of e-pos kan nie betyds beantwoord word nie. Niemand dink dan aan Eskom nie - dis eenvoudig swak diens wat jy lewer!

"Hiermee saam is dit 'n probleem om my fasiliteite in die hande te kry om besprekings te bevestig - voel soms of die beurtkrag landwyd permanent toegepas word!

"Ek moes nou teen groot koste in 'n kragopwekker belê en my brandstofrekening styg met honderde rand per maand om die ding aan die loop te hou - selfs meer as my normale elektrisiteitsrekening." skryf Du Preez.

  • Het jy 'n storie wat jy wil vertel oor probleme met beurtkrag? Stuur dit gerus vir ons by webred@landbou.com.

    25 Januarie 2008