Landbou
Veediewe mors met beeste


Beeskarkasse het in die kraal by 'n veepos gesaai gelê ná genadelose beesdiewe op die plaas Aris net suid van Windhoek toegeslaan het.

Beeskarkasse het in die kraal by die veepos gesaai gelê ná genadelose beesdiewe onlangs op die plaas Aris net suid van Windhoek toegeslaan het. Die geweldenaars het elf beeste se kele afgesny, maar net ses van die beeste van die plaas verwyder.

Grusame tonele het mnr. Heiner Frowerk ingewag toe hy die veepos sowat vyf kilometer vanaf die opstal op die plaas Aris, 30 kilometer suid van die hoofstad, besoek het. Beesdiewe het in die volmaan van 27 November elf van sy osse in die kraal by die veepos se kele afgesny. Ses van die osse is uitmekaar gesny en met 'n bakkie weggery om verkoop te word. Die vyf oorblywende osse se kele is bloot afgesny, maar hulle was net so gelaat vir die karkasse om in die somerson te verrot.

Die skade van die slagting word op sowat N$50 000 gereken. Die beesdiewe het volgens Frowerk die kampdrade by die veepos verwoes en van die draad en paaltjies in die slagproses gebruik. "Hulle het hake van die draad gemaak en van die paaltjies gebruik om die vleis aan op te hang terwyl hulle die beeste geslag het. Hulle het ook van die draad gebruik om die kraal se hekke toe te bind sodat die beeste wat nog nie vrek gemaak is nie, nie kon uitkom nie." Frowerk het gesê stukke tou is ook in die kraal opgetel toe onder-soekbeamptes van die veediefstal-eenheid die toneel besoek het.

Die tou is vermoedelik gebruik om die beeste plat te trek voor die diere se kele afgesny is. "Die polisie het in die kraal baie voetspore en die spore van die bakkie gevind waarmee die geslagde beeste vervoer is. Hulle het ook 'n plek in die veld gekry waar die diewe vuur gemaak het om van die vars vleis te braai." Frowerk sê dit is die eerste keer dat veediewe op sy plaas toe-slaan, maar hy het bygevoeg dat diewe 'n maand of wat tevore 'n pompenjin by dieselfde veepos gesteel het.

"Dit laat my dink dat die mense die bedrywighede op die plaas lank dopgehou het voor hulle die beeste kom slag het. Die veediewe het onlangs 'n renoster op die plaas van my buurman met die een of ander geweer raakgeskiet en die dier het uiteindelik gevrek."

Frowerk sê hy het nog nie met sy boerevereniging oor die aangeleentheid gepraat nie, maar 'n waarskuwing aan sy medeprodusente gerig om hulle diere fyn dop te hou. Hy het gesê die diewe gee nie om wat die skade is wat hulle aanrig nie, solank hulle net die vleis in die hande kan kry om te verkoop.

  • Ingestuur deur Deon Stander (dstander@medunsa.ac.za)

    26 Januarie 2008