Enkele veepryse en die jongste landbounuus - per selfoon - is 'n nuwe diens wat Landbouweekblad aanbied.
Nuwe tegnologie in die Media24-stal maak dié nuwighede moontlik. Die diens is geskep om die digitale werksaamhede van Landbouweekblad se webwerf uit te brei. Belangstellendes kan die prys van beeste en skape op sekere veeveilings en dié van wol voortaan per SMS aanvra. Die jongste landbounuus is ook nou op selfone te lees.
Die pryse op die weeklikse slagbeesveiling op Kroonstad en dié van die weeklikse slagskaapveiling op Frankfort is op aanvraag per SMS-boodskap beskikbaar. Dié pryse word elke Woensdag om 12:00 nuut bygewerk en die wolpryse is Woensdae vanaf 18:00 gereed. Alle pryse is 24 uur per dag beskikbaar.
Elite Afslaers verwerk en verskaf die pryse van die veilings op Kroonstad en Frankfort en Cape Wools verskaf die wolpryse.
'n Gebruiker tik 'n SMS-boodskap met 'n spesifieke kodewoord (kroon vir die Kroonstad-veiling, frank vir die Frankfort-veiling en wol vir die wolveiling op sy selfoon) en stuur dan dié boodskap na 33679. Die pryse word dan na die selfoon gestuur. Elke SMS-boodskap kos R1,50.
Die aanbied van hierdie diens is net 'n poging is om pryse wat op veilings behaal word, vinnig beskikbaar te stel en nie 'n poging om markpryse te dikteer nie.
Landbouweekblad aanvaar geen aanspreeklikheid vir die korrektheid van pryse nie of vir aannames wat uit die gepubliseerde pryse gemaak word nie.
Landbouweekblad oorweeg dit om die diens uit te brei met nóg verteenwoordigende pryse van gereelde weeklikse veeveilings. Stuur voorstelle aan webred@landbou.com of bel Jan Bezuidenhout by tel. 021 406 2414. Faks 086 624 7906.
Landbounuus
Om die jongste landbounuus op jou selfoon te
lees, tik die woord landbou in 'n SMS-boodskap
en stuur dit na 32424. Die SMS kos R1. Jy kry 'n
boodskap terug met die woorde landbou.mobi
daarin. Klik daarop om www.landbou.com se
nuus-afdeling op die internet oop te maak om
te lees. Die tyd wat 'n gebruiker via 'n selfoon
op die internet bestee, kos sowat R5 per MB.
Onthou net om die rooi knoppie/telefoon te druk as die nuus klaar gelees is om die internetverbinding te verbreek. Die landbounuus op die webwerf word verskeie kere per dag bygewerk.
14 Februarie 2008