Landbou

Mnr. Pieter Jordaan (regs) is 'n voormalige Suid-Afrikaanse boer wat nou in Argentinië boer. By hom is twee toerlede, mnre. Andries Liebenberg (links) van Porterville en Johan van Zyl van Pretoria. Die man met die notaboek is mnr. Carlos Gutierrez van Pannar in Argentinië, wat oor sojabone praat.
Soortgelyk
Boeretoer na Argentinië:
'n Plaasopstal sonder sleutel
Deur JAN BEZUIDENHOUT

Dié Argentynse boer het nie 'n sleutel vir sy opstal se voordeur nie, maar dit pla nie, al het hy nege jaar gelede uit Suid-Afrika daarheen geïmmigreer.

Toe die forelboer Pieter Jordaan die voordeursleutel vir die huis soek omdat sy vrou 'n week lank alleen op die plaas gaan bly omdat hy saam met 'n groep boere gaan toer, is dié sleutel net skoonveld.

"Ag, dit maak nie saak nie, dié deur is die afgelope jare in elk geval nog nooit gesluit nie", sê hy, groet sy vrou en vat die pad na Buenos Aires, waar hy by die toergroep van 35 Suid-Afrikaanse toeriste (meestal boere) moet aansluit.

(Klik hier om na toerfoto's te kyk.)

Dié voormalige Suid-Afrikaner het voorheen in die Vaaldriehoek geboer en nege jaar gelede die groot besluit geneem om sak en pak na Argentinië toe te verhuis. En hulle het nog nie teruggekyk nie, hoewel dit nie altyd maklik was in die nuwe land nie.

"Ons ken nie misdaad hier nie," vertel dié voormalige Suid-Afrikaner wat deesdae varswatervis in die La Pampa-provinsie in die sentrale deel van Argentinië produseer. Hulle het eers grond in die noordweste van die land gekoop, maar ná drie jaar suidwaarts getrek waar hy nou 'n suksesvolle forelboerdery bedryf. Hy lewer jaarliks 220 ton vis per jaar en vyf mense werk vir hom. Sy forelboerdery is in 'n aantal drywende hokke in 'n groot dam wat gebruik word om hidro-elektriese krag op te wek.

Jordaan het Landbou.com se toer in Argentinië meegemaak om as tolk te help, aangesien die Argentyne hul glad nie aan Engels steur nie en Spaans die voertaal is. Jordaan se een seun, Hendrik, is 'n toeroperateur in Buenos Aires, wat die toerreëlings in Argentinië gehanteer het.

Volgens Jordaan snr. was die aanpassings in sy nuwe vaderland aanvanklik moeilik, veral om Spaans te leer, maar die hele gesin gesels nou vlot Spaans en Jordaan snr. sê hulle is deur die gemeenskap aangeneem.

En mev. Jordaan? "Sy is heeltemal veilig, alleen in ons huis, selfs sonder die voordeursleutel", vertel hy.

Op een van die groter dorpe waar die toerlede oornag het, Venado Tuerto (100 000 inwoners) in die Santa Fe-provinsie, is dié feit deeglik beklemtoon. Geparkeerde voertuie het met oop ruite gestaan en in een voertuig het selfs 'n selfoon op die dashboard gelê.

Oor die toer: Een van die hoogtepunte van die toer was 'n besoek aan die Mercado de Liniers-vleismark in Buenos Aires, waar normaalweg tot 11 000 beeste per dag onder die hamer kom. Weens die Argentynse boerestaking was die veilingskompleks op die dag van die besoek leeg, maar die toerlede is op 'n staptog deur 'n deel van die kompleks van 24 ha krale geneem.

Dié enorme kompleks spog met 450 in- en uitgange vir die beeste, 55 vendusiehuise is op die terrein bedrywig en meer as 2 200 mense is daar werksaam. Sowat 300 perde word gebruik om die beeste te beweeg. Die lotte beeste word voor en ná elke veiling op 40 verskillende outomatiese skale geweeg en dié vendusie duur net van 08:00 tot 12:00 elke dag.

Die Liniers-mark hanteer nagenoeg 20% van die land se beesverkope, wat algar vir slagplase gekoop word. Net beeste van boere word daar van die hand gesit, geen voerkraalbeeste kom by Liniers nie. Die Liniers-mark is in 1901 gestig.

Voerkrale lewer net sowat 20% van die slagbeeste in Argentinië.

Wat van skaapvleis? Nee wat, sê Hendrik Jordaan, die toerorganiseerder. Argentyne eet beesvleis!

Op die gebied van die saaiboerdery kon toerlede hulle lippe aflek op 'n plaas naby die dorp Venado Tuerto, sowat 270 km wes van die Argentynse hoofstad. 'n Landbou-ingenieur van Pannar het vertel hoedat boere drie oeste in twee jaar op 'n bepaalde land afhaal. Die grond in daardie deel van die Pampas is baie diep en die gemiddelde reënval is sowat 1 000 mm per jaar. Op een van die landerye was sojabone wat feitlik gereed om te oes, en 'n mens kon die koringstoppels duidelik neffens die sojabone sien staan. Opbrengste vir die drie oeste op daardie land was 10 ton/ha vir mielies, en 5 ton/ha vir sojabone én 5 ton/ha vir koring. Alles op droëland.

Op 'n ander land, waar die sojaboon-oes aan die gang was, het een van die Swartlandse toerlede opgemerk dat die grond onder die dik deklaag sommer nog lekker nat is. "As ons stroop, is die grond kurkdroog, of ons ploeg dit heeltemal droog," het hy gesê.

Ná die plaasbesoek is die toer na die hawestad Rosario aan die Rio de la Plata-rivier. Argentinië voer jaarliks sowat 40 miljoen ton graan deur dié hawe uit en die toerlede is op 'n bgegeleide toer deur die graanverskepingsaanleg geneem.

Rye en rye vragmotors vol graan het by die aflaaigeriewe in die hawe gewag vir die opheffing van die landwye staking. Hoewel Rosario 'n rivierhawe is, kan veel groter skepe by die kaai vasmeer as wat in Suid-Afrikaanse hawens gehanteer kan word.

'n Ander interessante besoek was aan die nasionale departement van landbou, waar insiggewende inligting oor landbouproduksie in dié land verskaf is. Hoewel die departement nie met sekerheid kan sê hoeveel boere daar in die land is nie, is die getal plase net minder as 300 000. Die omvang van landbouproduksie in Argentinië laat die besoeker egter met geen wanindruk oor die groot geleenthede wat in die land opgesluit lê.

Sowat 19 000 boere is lede van internetforums waar belangrike inligting oor die verskillende bedrywe heen en weer gestuur kan word.

Hoewel die toergroep nie in enige stadium deur die landwye boerestaking bedreig is nie, kon die toerlede ;n ongelooflike ervaring meemaak: 'n Protesoptog van arm mense wat teen die landbou en duur kos georganiseer is, het voor die toergroep se hotel verbybeweeg. Die optog is na die Pink Paleis in die hartjie van die middestad gehou waar die land se president die optoggangers toegespreek het. Duisende mense het woordeloos ná dié byeenkoms voor die hotel verbygestap op die dreunslag van dromme. Geen skade is aan eiendom aangerig nie en hoewel die straat en sypaadjie met papiere besaai was, is dit deur die nag opgeruim.

Ten slotte: Danksy heerlike weer en 'n verskeidenheid besoekpunte, is van die aangenaamste herinneringe van dié toer die goeie vriendskappe wat gesmee is; die lekker lag en die heerlike kos. Oral waar ons geëet het, het die kelners borde en borde kos skaamteloos aangedra. En steak? Lekkerder kry jy nie, nêrens anders nie!

19 April 2008