Landbou
Aftree-plasie vir jou?
Deur BOB DU PREEZ

Sal jy graag jou goue jare op 'n aftree-plasie wil deurbring? Hier is 'n blink gedagte wat ook 'n geleentheid vir boere-entrepreneurs kan wees.

Die woord aftrede is angswekkend in menige opsigte, sê mnr. Bob du Preez, die skrywer van hierdie artikel. Lees sy gedagtes en kontak hom as jy daarin belang stel.

Aftrede staar almal in die gesig en die gedagte daaraan laat menige met angsvolle gedagtes:

  • Waar gaan ons aftree?
  • Wat gaan ons doen na aftrede?
  • Gaan ons finansieel oorleef?

    Dit is die drie vrae wat almal mee worstel en hierdie skrywe word spesifiek gerig aan boere.

    Geen boer kan dit deesdae oorweeg om sy oudag alleen op sy plaas te slyt nie en die alternatiewe opsies val nie altyd in alle boere se smaak nie:

  • By die kinders gaan bly in die dorp.
  • In 'n ouetehuis gaan bly.
  • In 'n aftree-oord gaan bly.

    Elkeen het seker sy voor en nadele maar die vraag wat beantwoord moet word is, is dit die enigste opsies beskikbaar aan my? Die antwoord is nee.

    Die idee van aftree-plasies spook al lank by my en die het ook sy voor- en nadele, maar in baie gevalle is dit 'n baie beter alternatief as die bogemelde opsies. Met hierdie skywe wil ek slegs my idees deel en hopelik is dit 'n konsep wat lewensvatbaar kan wees.

    Tehuise vir bejaardes:
    Ek gaan myself nie eers probeer indink oor wat dit moet wees om jou oudag in 'n tehuis vir bejaardes te slyt nie. Ek glo daar is baie tehuise wat goed geadministreer word en waar oues van dae goed na omgesien word, maar soos alles in die lewe is dit 'n waagstuk.

    Aftree-oorde:
    Die konsep van aftree-oorde kan nie bevraagteken word nie, maar wat wel waar is, is dat slegs multi-miljoenêrs deesdae in aftree-oorde kan gaan aftree. Kom ons deel 'n paar gedagtes:

  • Aftree-oorde word ontwikkel met die uitsluitlike doel om die ontwikkelaar so veel wins in die sak te bring as moontlik.
  • Of die oorde is in die beste/duurste dorpsareas geleë of op 'n gholfbaan, landgoed of wynplaas, ens.
  • Baie van die oorde word bemark deur op mense se gevoelens te speel en die eindresultaat is dieselfde as om 'n uitree- en annuïteitspolis uit te neem. Die eienaar is nie in beheer van sy geld nie en weerloos gestel aan toekomstige uitbuiting.
  • Die ontwikkelaar/bemarkers is geletterde mense wat jou laat glo dat die oord met sy tuine, swembad, eetsale en siekeboeg nét die plek is vir jou. Die vrae wat gevra moet word is, kan ek byhou met stygende kostes, gaan ek en my bure iets in gemeen hê en oor die weg kom of gaan ek slegs tussen my vier mure bly.
  • Laat ons eerlik wees, baie mense (stedelinge) pas goed aan in aftree-oorde omdat hulle so te sê hulle hele lewe lank in dorpe woon, het en gewoond is aan diés tipe lewenstyl.

    Aftree-plasies:
    Of dié konsep lewensvatbaar is, hang grootendeels daarvan af of boere wat in die kosep sou belangstel, kan saamstaan en dit 'n werklikheid maak. 'n Werkbare konsep kan slegs daargestel word as belangstellendes idees deel en saamwerk.

    Ek kan my voorstel dat menige van dié aftree-plasies landwyd gestig kan word deur saam te werk. Byvoorbeeld, belangstellende boere in die Bloemfontein-omgewing sit koppe bymekaar en deel informasie met ander groepe landwyd. Daar sal 'n tyd kom dat die idees in 'n werkbare kontrak daargestel kan word, wat as handleiding kan dien. Slegs deur saam te werk, sal duidelikheid verkry word oor hoeveel gesinne per aftree-plasie benodig word.

    Voorbeeld:
    Daar is baie aspekte van die konsep wat in oënskou geneem moet word:

  • Hoeveel mede-eienaars word benodig per aftree-plasie?
  • Waar moet die plasie geleë wees.
  • Die grootte van die grond en hoe dit benut gaan word.
  • Administrasie.
  • Daar moet saamgestem word oor die uitleg van die plasie.
  • Almal moet saamwerk, saamstaan en hulself kontraktueel verbind.

    Veronderstel daar is tien mede-eienaars en die aftree-plasie se grootte is 20 ha, waarvan die koste R1 miljoen beloop. Elke eienaar se bydrae is dan R50 000 plus registrasiekoste. Om 10 standplase uit te lê, is 'n eenvoudige proses en kan deur die eienaars self gedoen word.

    Die uitleg moet van so 'n aard wees dat mede-eienaars nie op mekaar se stoepe sit nie, dog dit moet uitgelê word met veiligheid en gerief as vereiestes.

    Tipiese uitleg:

  • 10 standplase word uitgelê in 'n sirkel of in 'n vierkant.
  • Dit vorm 'n binneplaas waar daar 'n gemeenskaplike lapa gebou kan word.
  • Motorhuise kan by elke huis gebou word of gesamentlik in 'n groep.
  • Die uilteg word beveilig met slegs 'n enkle ingang.
  • Elke eienaar laat vir hom/haar 'n huis bou na smaak.

    Benutting van grond:
    Hier is dit waar die konsep nou tot sy reg kom, bo en behalwe die woonstyl besluit die mede- eienaars wat om met die res van die grond the doen. My sienswyse is dat menige boere nooit aftree nie, selfs nie eers ná aftrede nie.

    Afhangend van gesondheid en belangstelling, kan boere hulself besig hou deur saam te boer vir eie gebruik. 'n Hoenderhok, 'n groentetuin, 'n paar plaasdiere, en so aan.

    Gemeenskaplike goedere:
    Onder dié afdeling kan menige idees die lig sien en die koste daaraan word gemeenskaplik gedeel.

    Daar kan byvoorbeeld 'n gemeenskaplike wassery opgerig word wat almal kan benut in plaas daarvan dat elke huishouding 'n afsonderlike wasmasjien moet aanhou. Vervanging- en instandhoudingkoste word gedeel.

    In die geval van 'n gemeenskapsboerdery sal daar 'n paar werktuie benodig word, weer eens word die koste gedeel. Sekere eienaars sal reeds in besit wees van die toerusting en in plaas van om dit te verkoop, kan dit gemeenskaplik aangewend word en die koste gedeel word.

    Opbrengste uit die gemeenskaplike boerdery strek tot voordeel van al die eienaars en as sulks word lewenskoste laag gehou.

    Om koste laag te hou, 'n gemeenskaplike bussie vir inkopies aagewend word, waarom ekstra betaal vir branstof deur dorp toe te gaan in talle motors.

    Nog 'n voorbeeld, in plaas daarvan dat elke huishouding 'n rekenaar moet aanhou of weekliks sy eie tydskrifte aanskaf, kan koste heelwat gesny word deur 'n gedeelte van die lapa as 'n kantoortjie in te rig waartoe almal toegang het en minder tydskrifte of 'n groter verskeidenheid kan aangeskaf word.

    Naskrif: Eskom se probleme en petrolpryse: Een ordentlike kragopwekker is goedkoper om te bedryf as baie kleineres.

    Veiligheid:
    In onse hedendaagse se lewe is geen mens meer veilig of kan veiligheid gewaarborg word nie. In dié vorm van gemeenskaplike lewe voel 'n mens tog veiliger en is daar hulp byhand in tye van nood. Menige stelsels kan in werking gestel word om die gemeenskap te beveilig en die koste word gedeel.

    Slotsom:
    Deur saam te werk, saam te staan en mededeelsaam te wees is die wagwoord wat daartoe sal lei dat afgetredenes 'n gerieflike en vreedsame oudag kan beleef in 'n plek van hulle keuse.

    Die opsies is eindeloos en 'n mens kan jou aftrede geniet deur omring te wees met mense van jou keuse. In geval van siekte sal daar altyd bystand wees en ons boere is bekend vir hulle gasvryheid, dus is dit net 'n kwessie van die stryd aansê.

    Ek loop al 'n paar jaar met dié idee in my kop rond en voel ek moet dit met iemand deel:

  • Nee, ek het die al die antwoorde nie en ek weet die pad is vol slaggate.
  • U insette, menings en voorstelle sal waardeer word.
  • Nee, ek is nie 'n ontwikkelaar nie, ek is slegs 'n stadsjapie wat die stad haat en hopelik ook eendag die kans gegun sal word om op 'n aftree-plasie te kan aftree. Ek soek nie u geld nie, ek vra slegs dat u die konsep in oënskou neem en u bydraes lewer. Wie weet, dalk kan ons tog nog saamstaan op ons oudag en die vreugdevure aansteek.
  • Ek vra onverskoning, 'n slim ontwikkelaar sou die boodskap so oorgedra het dat u moontlik geglo het dit is nét die kans waarop u gewag het. In my eenvoud probeer ek slegs uitvind of daar iewers in ons land boere is wat voel soos ek voel en bereid is om konstuktiewe kommentaar te lewer.

  • Mnr. Bob du Preez ze e-pos-adres is: bob@aftreeplaas.co.za
    Sy webwerf is: www.aftreeplaas.co.za.

    15 Mei 2008