Die boerestaking van sowat drie weke in Argentinië het gewys dat produsente kán saamstaan, sê mnr. Raúl Placido Victores, die voorsitter van een van die vier landbou-unies in dié land.
Victores het 'n groep Suid-Afrikaanse boere toegespreek wat Argentinië tydens die landwye staking besoek het. Die boere was lede van 'n groep van 35 mense wat Landbou.com se boeretoer na dié land meegemaak het.
Volgens Victores is die geskiedenisboeke met dié staking herskryf omdat die lede van al vier landbou-unies saamgestaan het. Dit is nog nie voorheen vermag nie.
Die landwye staking is uitgeroep nadat die regering 'n belasting van sowat 45% op alle graan en vleis wat vir die uitvoermark bestem is, ingestel het. Produsente het daarna padblokkades opgerig sodat geen landbouprodukte na die markte vervoer kon word nie. Die staking is ná sowat drie weke vir 30 dae opgeskort. Intussen onderhandel die landbou-unies met die regering oor die belasting.
Victores sê die landwye staking was 'n baie groot stap omdat belasting Argentynse boere laat noustrop trek. Baie landbougrond in dié land word deur groot grondeienaars verhuur en dit is veral die klein- en mediumgrootte boere wat die taks die ergste ondervind.
"Dié staking het aan die Argentynse publiek gewys dat voedsel êrens vandaan kom. Boere sal volgende keer nie staak nie, maar ons sal net nie ons produkte verkoop nie om ons punt te maak," het hy gesê.
Een van die Suid-Afrikaanse toerlede, mnr. Lambert Theron, het voorgestel dat boere-organisasies in lande van die suidelike halfrond met mekaar gesels omdat hul onderskeie regerings hulle so misbruik.
9 April 2008