Die oorsig oor vleispryse en vleisprysneigings van die afgelope week, asook 'n kykie na wat vorentoe kan gebeur.
Waarneming:
Vleispryse steier maar nog onder die las van 'n pap ekonomie wat vraag betref. Die momentum in die ekonomie is duidelik besig om af te neem en dit maak dat die vraag na vleis ernstig onder druk is. Prysstygings in ander voedselsoorte en algemene uitgawes van verbruikers, veroorsaak eenvoudig dat die verbruiker iewers moet sny.
Die produsent se-aandeel in elke rand wat die verbruiker op vleis spandeer, is kommerwekkend. Die RPO het vir ondersoeke hieroor gevra en hernude fokus word geplaas op hierdie tendens. Dit wil voorkom of die verlaagde produsentepryse, sedert Desember, net nie die verbruiker bereik nie en dat dit bydra tot die laer as verwagte vraag. Resultate van hierdie ondersoeke sal deur produsente in strategie omgeskakel moet word. Graag word vertrou dat eenvoudige bydraes soos dié sal bydra tot 'n bewustheid hiervan, ook onder die verbruikers.
Slagpryse van bees is oral op dieselfde vlakke as verlede week en speenkalwers se algemene tendens bly afwaarts. Mieliepryse het die afgelope week effe gedaal en dit bring mee dat indien huidige pryse gehandhaaf word wanneer kalwers geslag word wat nou in die kraal inkom, breek die voerder ongeveer gelyk of maak 'n klein wins.
Slaglammers se pryse sak nog as gevolg van 'n stewige aanbod en ons verwag dat pryse in die komende kort week meer beïnvloed sal word deur toegang tot die mark as deur aanbod van lammers.
Kuruman - speenkalwers effe op, lammers af.
Kroonstad - speenkalwers af, 20-50c/kg, slagkoeie en slagbulle ongeveer konstant.
Frankfort - Stoorlammers af, slaglammers af, vet ooie op.
Gouda - speenkalwers en slagbees hoër, lammers op.
RPO - riglynprys is sywaarts vir bees. C2 op in Noord-Kaap en C2 bly hoog in Limpopo. Skaap sywaarts behalwe vir Noord-Kaap-lam, wat styg.
Fundamentele faktore:
Insetkoste is besig om 'n krisis te word in die landbou. Insetkoste vir graanboere op die brandstof, kunsmis en plaagdoders is 65% en meer duurder vanaf verlede seisoen. En dit is nie die einde van fosfaat-prysstygings nie. Lekkoste vir veeboere is besig om hand-oor-hand toe te neem. Die knyptang-effek wat uitgeoefen word deur 'n ekonomie wat verstadig en verhoogde energiekoste (brandstof en grane) gaan veeboere uitdaag tot kreatiewe aanpassings. Daar moet ook waargeneem word dat huidige mieliepryse op uitvoerpariteitvlakke beweeg. Die resultaat hiervan kan net opwaartse beweging wees.
Goeie graanpryse sal produsente in staat stel om oorlaatskuld te diens en dit is veral goeie sonneblompryse en -oeste wat betekenisvol hiertoe bydra. Die drastiese styging in insetkoste het egter heelwat produsente genoop om veral kunsmis vooruit te koop.
Verskuilde koste soos verhoogde kommunikasiekoste, skerp stygende vervoerkoste as gevolg van brandstofpryse en ook toestand van paaie, verhoogde sekuriteitskoste en verliese as gevolg van misdaad, is ernstig besig om weg te kalwe aan inkomste.
'n Produksiewaarneming:
Vooruitskouing:
Die komende week gaan produktiwiteit en lewering oorheers word deur vakansiedae en sal toegang tot markte en produkte, die bepalende faktore wees.
25 April 2008