Soek jy vrou? Is die lewe op die plaas te eensaam? Skryf nóú in vir die Boer soek 'n Vrou-kompetisie en Landbouweekblad en kykNET sal jou help om die romanse te laat blom.
Nou bied Landbouweekblad en kykNET boere die kans van 'n leeftyd: Om die vrou van hul drome te ontmoet en lewensgeluk te vind. As jy jouself nog altyd as 'n plattelandse Don Juan beskou het, maar nog nie 'n vrou se hart kon verower nie, kan Boer Soek 'n Vrou jou lewe vir altyd verander. Dié werklikheidsreeks soek na ware romanse in die hart van die platteland.
Die program het in 2001 sy internasionale buiging gemaak en sedertdien het vroue in tien lande hul spykerhakke vir plaasstewels verruil. Hoewel talle boere suksesvolle ondernemings bedryf, is hulle soms maar lomp met hartsake.
Net so droom stadsmeisies oor die idilliese lewe op die plaas, maar die werklikheid skrik hulle af.
Boer Soek 'n Vrou gaan in 13 episodes kyk na die lewens van tien ongetroude boere, elkeen op soek na 'n perfekte metgesellin. Foto's en hul besonderhede sal landwyd versprei word en vroue word aangemoedig om aan hulle te skryf.
Die vyf boere met die minste briewe word uitgeskop. Die vyf wat die meeste briewe ontvang het, mag elkeen hul tien gunstelingbriewe kies. Dié tien vroue word dan uitgenooi na 'n groot sosiale geleentheid, maar net vyf maak dit tot die volgende ronde - 'n groepafspraak met hul boer.
Vroue van regoor die land kry vyf minute om die boer se voete onder hom uit te slaan. Die snelafsprake vind in 'n romantiese omgewing plaas en die boer moet op grond van die snelafspraak besluit watter drie het daardie spesiale vonk waarna hy nog sy lewe lank soek.
Vir hierdie vroue lê die toets van 'n leeftyd voor: Hulle gaan op die plaas kuier en 'n week lank die boer se daaglikse lewe met hom meemaak. Is dit werklik so idillies om op die plaas te woon? Is die leefstyl die moeite werd? Of is die stad se liggies aantrekliker as die helder sterreruim op die plaas? En hoe hanteer die boer die skielike inval van estrogeen in sy omgewing? Hy moet sy sokkies optrek om alles in en om die huis reg te trek vir die stadsmeisies se besoek en duim vashou dit dra hul goedkeuring weg.
Die spanning bereik 'n hoogtepunt wanneer die boer sy ideale vrou moet kies. Hierdie keuse is finaal. Het hy die ideale lewensmaat gevind, loop sy beker van geluk oor. Maar wat as hy verkeerd gekies het en die romanse verwelk?
Die bordjies word verhang en elke boer gaan kuier by die vrou van sy keuse en haar familie. Hy moet die plaas se bekende veiligheid agterlaat en die vrou se wêreld leer ken.
Teen die einde van die reeks gaan hou die verliefdes vakansie in die Kaap. Hoewel dit die spyker in die verhouding se doodskis kan wees, kan dit ook die seël op hul verhouding plaas.
Is jy moeg vir die eensame lewe op die plaas? Laat Landbouweekblad en kykNET jou help om 'n geskikte lewensmaat te vind. Hierdie kompetisie is jou kans om die vrou van jou drome te ontmoet. As jy 'n ongetroude boer is, kan jy deelneem aan dié landwye liefdesoektog. Die inskryfvorm kan jou kaartjie tot die huweliksbootjie wees.
6 Mei 2008