Die onderste draaipunt van speenkalfpryse is nog nie bereik nie, skryf Kantoorboer in sy weeklikse kommentaar oor die vleispryse.
Waarneming:
Soos die mielie-oes nader aan inlewering vorder, het die oesskatting verhoog en het pryse afgekom. Huidige pryse van R1800 per ton en speenkalfpryse van R12.50 per kg (by die kraal), maak voorsiening van 'n positiewe marge in die voerkraal. As mielies teen R1850 per ton by die kraal gelewer kan word, dan breek die kraal ongeveer by R23/kg slagprys, gelyk.
Die ekonomie het dié week weer gevoel hoe die las van die hoër brandstofpryse op hom druk en dit laat die verbruiker met minder rande in sy sak om te spandeer op vleis. Die inflasiesyfers wat steeds opwaarts neig en die dreigemente dat die Reserwebank nie eintlik ander opsies het as om rentekoerse verder te verhoog nie, is alles negatief vir vraag na vleis.
Die punt moet maar hier ook gemaak word dat dit 'n moeilike situasie is waar die Reserwebank net een mandaat het en dit is om die inflasiekoers binne sekere perke te hou en die enigste meganisme om dit mee te doen, is rentekoerse. Meeste ekonome wys daarop dat die huidige momentum in inflasie nie rentekoers-sensitief is nie en eerder deur olieprys en invoerfaktore bepaal word.
"Slagpryse van bees is oral op dieselfde vlakke as verlede week en speenkalwers se algemene tendens bly afwaarts". Hierdie sin van verlede week, geld nog net so met verdere verlaging in mieliepryse en verder negatiewe druk op speenkalfpryse. By die meeste veilings waar pryse waargeneem word, was die speenkalfprys dieselfde of nog af.
Slaglammers se pryse het gestabiliseer en effe verbeter. Slagpryse na die kort week is effe beter en die enigste verklaring hiervoor kan wees dat die aanbod gestabiliseer het.
Kuruman - speenkalwers af en lammers op, vet ooie op.
Kroonstad - speenkalwers effe op, slag koeie op en slagbulle af.
Frankfort - Stoor lammers op, slaglammers R1,20 op, vet ooie sterk op.
Gouda - pryse op dieselfde vlakke.
RPO - riglyn vir kalwers af, bees sywaarts. C2 in Noord-Kaap en Limpopo af. Skaap sywaarts, behalwe vir Noordwes lam, wat af is.
Fundamentele faktore:
Produksietoestande in somerreëngebiede is goed en die naweek se reën behoort kwaliteit van weiding, langer op te hou. Volgende week sal ons kommentaar lewer oor die reënval vir die hele land vir April.
Met beesvleispryse 14-20% hoër as verlede jaar se April pryse en skaapvleis net meer as 5% hoër is die koste waaroor in verlede week se berig geskryf is, werklik 'n kommer. Speenkalfpryse is maar ongeveer 4% hoër as dieselfde punt in 2007.
Produksie-waarneming:
Vooruitskouing:
Die onderste draaipunt van speenkalfpryse is nog nie bereik nie. Slagpryse van bees behoort sywaarts te beweeg (of effe afwaarts) en lam behoort effe opwaarts te beweeg.
9 Mei 2008