Die internasionale debat oor voedselveiligheid fokus die aandag op gesondheidbestuur, van die lewende dier, die hantering van die produk tot in die bord van die verbruiker.
Waarneming:
Hierdie week se fokus word geplaas op voedselveiligheid op grond van 'n artikel in die American Cowman Update. In die Europese Unie het vleisproduksie, en veral beesvleisproduksie, onder druk gekom as gevolg van verbruikers wat onrustig geraak het oor voedselveiligheid. Graag word die punt gemaak dat waar talle regeringsdienste in Suid-Afrika onder druk is om standaarde te handhaaf, is dit uiters noodsaaklik dat gesondheid- en higiënestandaarde soos 'n kleinood bewaar moet word.
In die EU is verbruik en produksie in 'n nuwe rigting gestuur as gevolg van verbruikersvoorkeur wat grootliks begin fokus het op veiligheid in plaas van die kwaliteit van die produk. Waar die EU ekonomies in staat is - met die gebruik van swaar subsidies - om produksie in 'n spesifieke rigting te stuur, is ons in SA baie meer blootgestel aan die markkragte wat met sulke verskuiwings gebeur.
Die slotsom hieruit is dat elke produsent, abattoir, slaghuis en restaurant moet deel word van die poging om veilige vleis aan die verbruiker te voorsien. Dit sluit alles in vanaf gefokusde gesondheidbestuur by die lewendige dier tot by die hantering van die produk tot in die bord van die verbruiker.
Verlede week is voorsien dat hierdie week 'n oorsig sou insluit oor die reënvalsyfers vir die somerreënval gebied. Die inligting op AGIS is nog nie beskikbaar nie en dit sal aangeskuif moet word.
Die mielieprys het in die afgelope week effe verstewig en dit is veral die toekomstige pryse tot die end van die jaar wat redelik stewig staan. Sonder om 'n onderwerp wat baie aandag kry in die pers, verder te belas, beteken dit dat meer druk geplaas word op speenkalfpryse en stoorlampryse in die stadium wanneer die onderste draaipunt tradisioneel genader word.
Dit word waargeneem dat speenkalfpryse plek-plek effe verstewig het en dat stoorlampryse ook verstewig het aan die hand van beter slagpryse.
Slagpryse van bees is oor die algemeen effe laer as gevolg van beter aanbod en slaglampryse neig effe stewiger op die rug van konstante of laer aanbod.
Kuruman - speenkalwers af, slagkoeie af slagbulle op, bokke af, lammers en skaap sywaarts.
Kroonstad - speenkalwers effe af, slag koeie af en slagbulle op.
Frankfort - veiling gekanseleer as gevolg van Nampo.
Gouda - speenkalwers effe op, lammers en skaap op.
RPO - riglyn vir kalwers en bees sywaarts. Skaap en lam sywaarts.
Fundamentele faktore:
Ekonomiese druk bly negatief op die vraag na vleis en sal waarskynlik vir die res van die jaar, redelik druk bly uitoefen.
Produksietoestande in somerreën gebiede hou nog met die aanvang van die winter. Die relatief gematigde temperature handhaaf redelike produksieomstandighede.
Produksiewaarneming:
Vooruitskouing:
Die vooruitskouing vir die volgende week word net so gehou soos verlede week: Die onderste draaipunt van speenkalfpryse is nog nie bereik nie. Slagpryse van bees behoort sywaarts te beweeg (of effe afwaarts) en lam behoort effe opwaarts te beweeg.
15 Mei 2008