Landbou
EU aanvaar SA se uitvoerstandaarde
NICO VAN BURICK

Die Europese Unie (EU) het voorwaardelik ingestem om Suid-Afrika se gehaltebeheerstelsel vir die uitvoer van vrugte en groente na Europa goed te keur.

Dié goedkeuring is onderworpe aan die voorlegging van bykomende dokumentasie wat deur die EU versoek is. Die Departement van Landbou sê in 'n verklaring dié dokumente sal binne die volgende twee weke verskaf word.

Kragtens nuwe EU-regulasies wat binnekort in werking tree, moet alle besendings vars vrugte en groente wat die EU binnekom, geïnspekteer word om te verseker dat dit aan die voorgeskrewe gehaltevereistes voldoen. Lande kon egter om vrystelling aansoek doen, wat beteken dat die uitvoerland se gehaltebeheerstelsels aanvaar word en besendings dan net op 'n steekproefbasis nagegaan word.

Mnr. Eben Rademeyer, direkteur: Plantgesondheid en -gehalte, het vroeër gesê die inspeksie van alle besendings in Europa kan weens logistieke probleme ernstige gevolge vir Suid-Afrika inhou. Amper 70 % van Suid-Afrika se vars produkte word na die EU uitgevoer.

Die departement het in 1992, onder vorige EU-regulasies, aansoek gedoen dat Suid-Afrika se gehaltebeheerstelsel vir uitvoer aanvaar word. Dit is verlede jaar aangepas en weer ingedien.

Sodra die aansoek finaal goedgekeur is, sal gesertifiseerde Suid-Afrikaanse vars produkte na die EU net deur papieroudits en normale steekproewe vir gehaltebeheer nagegaan word.

Die nuwe EU-regulasies oor inspeksies tree op 1 Januarie volgende jaar in werking.

6 Desember 2002