Landbou
El Niño-gevolge kan vererger
NICO VAN BURICK

Hoewel min verandering, of net 'n klein toename, in die omvang van El Niño-verskynsels in hierdie eeu verwag word, kan die gevolge van vloede en droogtes wat daarmee gepaard gaan, erger wees weens hoër temperature.

Prof. Godwin Obasi, sekretaris-generaal van die Wêreld Meteorologiese Organisasie, het in 'n vooruitskouing oor klimaatsveranderinge gesê El Niño het in 1997/98 (die ergste in die vorige eeu) 110 miljoen mense benadeel en die wêreldekonomie R820 miljard gekos.

Hy sê die klimaatsveranderinge wat oor die afgelope dekade waargeneem is, sal voortduur en tot dringende en toenemende uitdagings lei. "Die onmiddellikste bedreigings hou verband met die groter wisseling in intensiteit en voorkoms van storms en ander uiterste weerverskynsels soos vloede en droogtes, hittegolwe en 'n styging in seevlak."

In die afgelope tien jaar het rampe weens weerverskynsels aansienlik toegeneem. Wêreldwyd bedreig herhaalde droogtes en verwoestyning die lewens van meer as 1,7 miljard mense wat van die grond afhanklik is vir hulle basiese behoeftes.

Prof Obasi sê die internasionale gemeenskap moet nou optree om die vrystelling van skadelike gasse in die atmosfeer te beperk en maatreëls tref om onsekerhede oor die voorspelling van weerverskynsel te verminder.

4 April 2003