Die tweede gesamentlike Boerbok-produksieveiling van mnre. Izak Vorster van Middelburg (Oos-Kaap) en Albert Van Zyl van Hoopstad het getoon dat die vraag na Boerbokke nie net beperk is tot stoetdiere van hoë gehalte nie, maar ook na kommersiële diere.
Soetdoring-Trust van mnr. Van Zyl het sewe stoetooie teen gemiddeld R2 207 stuk verkoop, met 'n hoogste prys van R2 600 betaal deur mnr. Wessel Venter van Wesselsbron. Mnre. Pieter Oosthuizen van Wolmaransstad en Lodewyk Fourie van Schweizer Reneke het R2 300 stuk betaal vir stoetooie.
Altesame 18 ramme is teen gemiddeld R3 800 stuk verkoop. Mnr. Venter het R17 000 betaal vir 'n 6-tand-stoetram, 1054 0037 Yster, gevaar deur Jacob uit moeder 157-96181. Die naashoogste prys van R9 500 is deur me. Deseré Ferreira van Vryburg betaal vir 'n ram wat ook deur Jacob gevaar is.
'n Gemiddelde prys van R780 stuk is vir vyf kudde-ooie behaal, met 'n hoogste prys van R1 250.
Die Elandskloof-Boerbokstoetery van mnr. Vorster het 17 stoetooie teen gemiddeld R2 315 stuk verkoop. Die hoogste prys van R5 800 is deur mnr. Louis Eksteen van Groblersdal betaal.
Altesame 14 ramme is teen gemiddeld R4 221 stuk verkoop. Mnr. Fourie het R8 500 betaal vir 'n uitmuntende stoetram wat die vierde plek behaal het op die wêreldskou, asook R8 200 vir nog 'n ram van 'n hoë gehalte.
Mnr. Herman Groenewald van Postmanburg het 10 kommersiële ooie verkoop teen gemiddeld R1 163stuk, met 'n hoogste prys van R1 250. Mnr. Myburgh Goosen van Hoopstad het vier stoetooie teen gemiddeld van R669 stuk verkoop, met 'n hoogste prys van R750. Altesame 16 kommersiële ooie is teen gemiddeld R691 stuk verkoop, met 'n hoogste prys van R770.
Mnr. Frikkie Schneider van Rysmierbult het 35 kommersiële ooie verkoop teen 'n gemiddelde prys van R944 stuk. Die hoogste prys was R1 080.
Die veiling is onder beskerming van die SA Boerbok-telersvereniging deur Roderick en Martin aangebied.
18 April 2003