Subtropico, 'n maatskappy wat 10 jaar gelede deur 'n klompie piesangboere gestig is om hul piesangs self te bemark nadat die Piesangraad weens deregulering ontbind het, het van krag tot krag gegaan. Dit is nou 'n maatskappy met 'n omset van bykans R400 miljoen per jaar. Die omset vir die eerste 12 maande was R20 miljoen.
Dr. Piet Botha, uitvoerende hoof, sê die maatskappy is 'n openbare maatskappy met 'n netwerk van 12 markagentskappe landwyd wat dit die grootste enkele markagent op nasionale varsproduktemarkte maak. Dit is lankal nie net meer piesangs wat bemark word nie. Piesangs maak steeds die grootste deel van die volume uit van die produkte wat bemark word, naamlik 36 %, gevolg deur aartappels en uie (29 %), groente (16 %), vrugte (10 %), appels (6 %), avokado's (1,5 %), tamaties (1 %) en diverse produkte (0,5 %). In die 10 jaar van sy bestaan, het die maatskappy ook gediversifiseer. Die eerste verkryging van die maatskappy was 'n belang van 53 % in Burpak Bpk., naby Kiepersol in Mpumalanga. Die hoofbesigheid van dié onderneming is die rypmaak en bemarking van piesangs, sowel as die verpakking en uitvoer van avokado's en lietsjies. Die grootste persentasie van hul produkte word na Europa uitgevoer. Burpak is die houermaatskappy van Da Gama Avocado Oils, geleë naby Hazyview, avokado- en makadamianeut-olies vervaardig en bemark. Subtropico het ook 'n regstreekse belang van 20 % in Da Gama. Voorts het Subtropico ook 'n aandeel van 51 % in Zedpro, 'n maatskappy wat deur piesangboere van Levubu bedryf word. Die onderneming versprei hoofsaaklik piesangs in die distrikte Levubu en Potgietersrus, maar bemark ook appels, uie, aartappels en subtropiese vrugte. Hierbenewens het die maatskappy 'n aandeel van 76 % in Maxima Bemarking wat handel dryf in die herbou en verkoop van Massey Ferguson-trekkers en -onderdele, terwyl dit ook 'n aandeel van 65 % het in Vitamech, 'n onderneming wat landbouwerktuie en onderdele aan die landbou voorsien. Dr. Botha voorsien dat die maatskappy, met sy aandeelhouers van 310, waarvan talle boere is, in die jare wat voorlê nog groter hoogtes sal bereik.25 April 2003