Die Minister van Arbeid, mnr. Membathisi Mdladlana, het boere wat probleme het om aan die vereistes van die sektorale vasstelling te voldoen, gewaarsku om nie werkers onwettig af te dank nie.
Arbeidswetgewing maak voorsiening vir duidelike stappe om personeel te verminder en alle werkgewers moet daaraan voldoen, aldus mnr. Mdladlana.
Hy het gesê die wetgewing maak voorsiening vir diegene wat probleme met die impelementering en die vereiste minimum loon van R650 tot R800 ondervind. Boere moet met hul werkers onderhandel om 'n oplossing te beding en dan by die departement om uitstel aansoek doen. Tot dusver het sowat 580 boere om kwytskelding aansoek gedoen.
Mnr. Mdladlana het gereageer op berigte dat 4 000 plaaswerkers in Limpopo afdanking in die gesig staar. Hy sê die uitdagings wat boere ondervind met die implementering van die sektorale vasstelling word erken en oplossings word gesoek met die deelname van die georganiseerde landbou. 'n Taakspan wat geskrewe bydraes oor die hantering van knelpunte moet oorweeg, het pas die eerste keer vergader.
Landbouverteenwoordigers het gesê hoewel geen klinkklare oplossings gevind is nie, is vordering gemaak en inligting uitgeruil. Die georganiseerde landbou probeer om spoedige oplossings vir die kwelvrae te kry, maar wysigings aan bestaande wetgewing is tydrowend.
Die taakspan, onder voorsitterskap van mnr. Edwin Molahleli (direkteur van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie), kyk na aspekte soos te min tyd vir sowat 50 000 boere om honderdduisende nuwe werkerkontrakte te onderhandel, onsekerhede en probleme oor die minimum loon van R650 en R800, die reëling dat meer as 27 werkure per week gelyk gestel word aan heeltydse werk en die beperkte erkenning vir in natura-vergoeding.
Mnr. Mdladlana het vroeër te kenne gegee dat as daar 'n ooreenkoms bereik kan word, hy daaraan gehoor sal gee. Die departement bly egter verbind tot die implementering van die sektorale vasstelling en het dit gedoen om werkers se lewensstandaard te verhoog, nie om hulle in 'n slegter posisie te plaas nie.
30 Mei 2003