Landbou
Mdladlana praat hard oor lone
Johan Fouché

Mense wat dink hulle kan die horlosie terugdraai deur met politieke druk die ANC se agenda vir transformasie te stuit, moet onthou dat dié party meer as 90 jaar se ervaring van weerstand bied het, sê mnr. Membathisi Mdladlana, die Minister van Arbeid.

Hy het in die Parlementêre debat oor Arbeid se begrotingspos behoorlik ingeklim onder "sommige blanke boere en hul verenigings wat probeer het om 'n politieke geveg teen die sektorale instelling van minimum lone in die landbou" te voer.

"Die instelling van minimum lone vir huis- en plaaswerkers, twee besonder kwesbare groepe, was van die grootste mylpale wat die Departement van Arbeid die afgelope jaar bereik het. Die toepassing hiervan sal verseker dat misbruik, marginalisering en uitbuiting van werkers in hierdie sektore iets van die verlede sal wees.

"Die Regering kon nie toegee aan boere se versoek dat in natura-vergoeding meer as 10 % van 'n werknemer se totale vergoeding mag uitmaak nie. Dit sou die siklus van armoede onder plaaswerkers laat voortduur en 'n klimaat geskep het waarin diegene wat nie van die Regering se beleid hou nie, die wetlike gesag sonder vrees vir straf ondermyn."

Mnr. Mdladlana sê hy het nogtans "in belang van die bevordering van vrede en stabiliteit in die arbeidsmark" 'n taakspan, bestaande uit amptenare van sy departement en verteenwoordigers van werkgewers en vakbonde, saamgestel om saam met die landbousektor 'n program van aksie te ontwikkel wat moet verseker dat die stelsel van minimum lone slaag.

Die departement wil vanjaar ook aandag gee aan onder meer vaardigheidsopleiding, die ontwikkeling van 'n omvattende program om kinderarbeid uit te roei en die "gebrekkige" vordering met regstellende aksie op veral top-bestuursvlak.

Werkloosheid is deur die Demokratiese Alliansie en sommige ander partye as een van die land se ernstigste probleme uitgewys.

Mnr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront het gesê dit word vererger deur arbeidswette waarin die ANC se politieke agenda bo landsbelang gestel word.

Mnr. Norman Middleton van die IVP sê die Regering moet dit ernstig oorweeg om belastingverligting te gee aan boere wat behuising, skole, lopende water en sanitasie aan hul werkers voorsien, om só werkverskaffing aan te moedig.

Mnr. Ngoako Ramatlhodi, premier van Limpopo, het verlede week die sektorale vasstelling gekritiseer omdat daar geen ondersteuningstelsel is om werkers, wat hulle werk weens dié wetgewing verloor, te help nie.

Hy het gesê daar moes eers 'n prosedure gewees het waarvolgens die gevolge gehanteer kon word, vóór die wetgewing geïmplementeer is. In die geval van huiswerkers is dit anders, dit is enkelinge wat betrokke is. In die geval van plaaswerkers is dit 'n groot getal wat werkloos raak, het hy volgens me. Khumbudzo Ntshavheni, sy woordvoerder, gesê.

6 Junie 2003