Bitter min mense sal tevrede wees met 'n dowwe plaaslyn sonder privaatheid in die tyd van internet en blitsige internasionale kommunikasie. Dit is egter steeds die werklikheid van sowat 1 500 boere in die Suid-Vrystaat. Boere in ander gebiede van die land het dieselfde probleem.
Op 'n vergadering in Bethulie het boere hul boodskap duidelik aan Telkom oorgedra: Hulle is moeg vir die gesukkel met die plaaslyne. Hulle wil 'n outomatiese telefoondiens hê. Dié boere voel hulle word afgesny van die res van die wêreld. Hulle het onder andere nie toegang tot die internet of e-pos nie.
"Die ding is só oud, dit kan in die Guinness-boek van wêreldrekords opgeteken word. Onderdele vir die goed is nie meer beskikbaar nie," sê mnr. Hendrik Calitz van Boesmanskop. "Boonop is dit ongrondwetlik, want dit is 'n meeluistertoestel."
Een van die grootste probleme kom wanneer hulle maatskappye of instansies bel en 'n stem vra dat verskillende nommers gedruk moet word om 'n opsie uit te oefen. Daar is nie knoppies om te druk nie.
Talle boere het met mnr. Smittie Bekker van Vanstadensrus saamgestem dat die plaaslyne ook hul veiligheid in gevaar stel. Die lyne is dikwels buite werking, wat beteken dat slagoffers van plaasaanvalle nie hulp sal kan ontbied nie.
Mnr. Eddie Prinsloo van Smithfield sê hy kan nie meer die plaaslyn vir sy sake gebruik nie. Hy het wye sake-verbintenisse tot in Lesotho en 'n plaaslyn is nie privaat nie. As hy nie 'n outomatiese diens kry nie, moet hy maar net sy selfoon gebruik, al is dit duur.
Telkom sê dit sal R50 000 kos om elkeen van die plaaslyne te vervang en geen geld is beskikbaar nie. Al raad vir die boere is: "Kry 'n satellietfoon teen R1 200 per maand."
12 Desember 2003