Landbou
Natalagri dreig lede oor VKB
JAN CILLIERS

Die geveg om die oorname van Natalagri tussen Afgri en Vrystaat Koöperasie beperk (VKB) raak nou vuurwarm met ontevrede lede van Natalagri wat hul koöperasie hof toe vat om te keer dat vandeesweek se skemavergaderings plaasvind.

Mnr. Bruce Catlett, 'n lid van Natalagri en leier van die groep ontevrede lede, het aan Landbouweekblad gesê die doel met die regsaksie is om die skemavergaderings vandeesweek deur Natalagri uitgestel te kry sodat die VKB ook die geleentheid kry om op die vergaderings sy aanbod voor die boere te lê. Natalagri se direksie weier dat die VKB se aanbod op dié vergaderings bespreek word. Boere sal net kan besluit of hulle vir of teen Afgri se aanbieding is.

Catlett sê boere verstaan steeds nie waarom die VKB se aanbod verlede jaar in September op Natalagri se jaarvergadering sonder teenstem aanvaar is en dat die samesmelting tussen die twee koöperasies vir Oktober geoormerk is, maar onmiddellik daarna afgewys is nie.

"Ons moes dit in die koerante lees dat Afgri se aanbod aanvaar is en die VKB se aanbod van die tafel is," het Catlett gesê.

Intussen voer Natalagri 'n hewige advertensieveldtog in die koerante, wat, volgens Catlett, al sowat 'n miljoen rand moet kos, om lede te oortuig om Afgri se aanbod te aanvaar.

In die jongste advertensie, wat die vyfde groot advertensie in die reeks in die land se grootste sakeblaaie was, sê Natalagri dat sy skuld by die Land Bank op R225 miljoen staan en dat die bank sy skuld moontlik gaan oproep as daar teen 15 Februarie nie uitsluitsel oor Natalagri se toekoms is nie.

Lede van die koöperasie word in die advertensie gewaarsku dat as Natalagri die skuld nie kan betaal nie, dit ingevolge wetgewing van lede, huidige, sowel as voormalige lede, verhaal kan word.

In die advertensie hou die VKB voor dat hy in die beste belang van Natalagri se lede optree deur die aanbod van Afgri te aanvaar. "Die VKB se primêre belang in Natalagri (en Natalagri se lede) is om sy eie welvaart uit te bou tot die voordeel van dieVKB en sy huidige lede. Die VKB se belang kom nie noodwendig ooreen met die beste belang van Natalagri nie of Natalagri se lede nie," word in die advertensie gewaarsku.

Voorts word in die advertensie daarop gewys dat Afgri onderneem het om die lede teen die skuld aan die Land Bank te vrywaar.

13 Februarie 2004